1DAARNA het ons weggedraai en op pad na Basan opgetrek; en Og, die koning van Basan, het uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Edréï.
2Toe het die Here vir my gesê: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek gee hom en sy hele volk en sy land in jou hand; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.
3En die Here onse God het ook Og, die koning van Basan, en sy hele volk in ons hand gegee, sodat ons hom verslaan het, totdat daar van hom niemand oor was wat vrygeraak het nie.
4En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem; daar was geen vesting wat ons van hulle nie afgeneem het nie: sestig stede, die hele landstreek Argob, die koninkryk van Og in Basan.
5Al hierdie stede was versterk met hoë mure, poorte en grendels, behalwe 'n groot menigte onbemuurde stede.
6En ons het hulle met die banvloek getref soos ons met Sihon, die koning van Hesbon, gedoen het deur elke stad, manne, vroue en kinders met die banvloek te tref.
7Maar al die vee en die buit van die stede het ons vir ons geroof.
8So het ons dan in dié tyd die land uit die hand van die twee konings van die Amoriete duskant die Jordaan geneem, van die Arnonrivier af tot by die berg Hermon —
9die Sidoniërs noem Hermon Sirjon; maar die Amoriete noem dit Senir —
10al die stede van die gelykveld en die hele Gílead en die hele Basan tot by Salga en Edréï, stede van die koninkryk van Og in Basan.
11Want Og, die koning van Basan, het net alleen oorgebly van die Refaïete. Is sy ledekant, 'n ysterledekant, nie daar in Rabba van die kinders van Ammon nie? Nege el is sy lengte en vier el sy breedte, gewone elle.
12En hierdie land het ons in dié tyd in besit geneem: van Ároër af, wat by die Arnonrivier lê, en die helfte van die gebergte van Gílead met die stede daarvan het ek aan die Rubeniete en die Gadiete gegee.
13En die orige deel van Gílead saam met die hele Basan, die koninkryk van Og, het ek aan die halwe stam van Manasse gegee — die hele landstreek Argob. Daardie hele Basan word land van die Refaïete genoem.
14Jaïr, die seun van Manasse, het die hele landstreek Argob tot by die grens van die Gesuriete en die Maägatiete gekry en dit, naamlik Basan, na sy naam Jaïrsdorpe genoem tot vandag toe.
15En aan Magir het ek Gílead gegee.
16Maar aan die Rubeniete en die Gadiete het ek van Gílead af tot by die Arnonrivier gegee, die middel van die rivier, saam met sy oewerland, en tot by die Jabbokrivier, die grens van die kinders van Ammon.
17Daarby die Vlakte en die Jordaan, saam met sy grondgebied, van Kinnéret af tot by die See van die Vlakte, die Soutsee, onder aan die hange van Pisga teen die ooste.
18Verder het ek in dié tyd aan julle bevel gegee en gesê: Die Here julle God het aan julle hierdie land gegee om dit in besit te neem; gewapend moet julle voor jul broers, die kinders van Israel, oortrek — al die dapper manne.
19Net julle vroue en julle kinders en julle vee — ek weet dat julle baie vee het — kan in julle stede bly wat ek aan julle gegee het;
20totdat die Here aan julle broers soos aan julle rus gee, en hulle ook die land in besit neem wat die Here julle God aan hulle oorkant die Jordaan sal gee; dan kan julle teruggaan elkeen na sy besitting wat ek aan julle gegee het.
21Ook het ek Josua in dié tyd beveel en gesê: Jou oë het alles gesien wat die Here julle God aan hierdie twee konings gedoen het. So sal die Here aan al die koninkryke doen waarheen jy oortrek.
22Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die Here julle God wat vir julle stry.
23Ook het ek die Here in dié tyd gesmeek en gesê:
24Here, Here! Ú het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U?
25Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon!
26Maar die Here het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die Here het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.
27Klim op die top van Pisga en slaan jou oë op na die weste en na die noorde en na die suide en na die ooste, en bekyk dit met jou oë; want jy mag oor hierdie Jordaan nie gaan nie.
28Gee dan bevel aan Josua, en versterk hom en bemoedig hom, want hý sal voor hierdie volk uit deurtrek, en hý sal hulle die land wat jy sal sien, laat erwe.
29En ons het in die dal teenoor Bet-Peor gebly.