Ester maak haar gereed om tot redding van die Jode na die koning te gaan.
1TOE Mórdegai verneem alles wat gebeur het, het Mórdegai sy klere geskeur en 'n roukleed aangetrek, en daar was as op sy hoof; en hy het uitgegaan dwarsdeur die stad en hardop en bitter geskreeu.
2So het hy dan tot voor die poort van die koning gekom; want niemand het met 'n roukleed aan by die poort van die koning mag ingaan nie.
3En in al die provinsies waar die bevel van die koning en sy wet ook al aankom, was daar groot rou onder die Jode met vas en geween en rouklag; baie het sak en as onder hulle uitgesprei.
4Toe die meisies van Ester en haar hofdienaars kom en haar dit meedeel, was die koningin baie beangs, en sy het klere gestuur om Mórdegai dit aan te trek en om sy roukleed van hom weg te neem; maar hy het dit nie aangeneem nie.
5Hierop roep Ester Hatag, een van die hofdienaars van die koning, wat hy in haar diens gestel het, en beveel hom om na Mórdegai te gaan om te verneem wat dit beteken en waarom dit gebeur.
6En Hatag het uitgegaan na Mórdegai na die stadsplein wat voor die poort van die koning gelê het.
7Toe deel Mórdegai hom mee alles wat hom oorgekom het, en die juiste bedrag van die silwer wat Haman beloof het om in die skatte van die koning af te weeg as prys vir die Jode om hulle uit te roei.
8En hy het hom 'n afskrif gegee van die bevelskrif wat in Susan uitgevaardig was om hulle te verdelg, sodat hy dit aan Ester kon wys en haar die saak kon meedeel en haar kon opdra om na die koning te gaan om hom genade te vra en by hom 'n voorspraak te wees vir haar volk.
9Daarop het Hatag ingegaan en die woorde van Mórdegai aan Ester meegedeel.
10Toe sê Ester vir Hatag, terwyl sy hom 'n opdrag gee aan Mórdegai:
11Al die dienaars van die koning en die volk van die provinsies van die koning weet dat vir elke man of vrou wat na die koning in die binneste voorhof ingaan, sonder dat hy geroep is, een en dieselfde wet geld: hy moet gedood word; behalwe wanneer die koning sy goue septer na hom uitsteek, dat hy mag lewe; en ek is nou al dertig dae lank nie geroep om by die koning in te kom nie.
12En hulle het die woorde van Ester aan Mórdegai meegedeel.
13Daarop sê Mórdegai dat hulle Ester moes antwoord: Verbeel jou nie dat jy alleen uit al die Jode in die huis van die koning sal vrykom nie.
14Want as jy nou werklik swyg, sal daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom, maar jy en jou familie sal omkom, en wie weet of jy nie met die oog op 'n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie?
15Toe sê Ester dat hulle Mórdegai moes antwoord:
16Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om.
17En Mórdegai het heengegaan en gedoen net soos Ester hom opgedra het.