Die besoek van Jetro.
1TOE Jetro, die priester van Mídian, Moses se skoonvader, hoor alles wat God aan Moses en aan sy volk Israel gedoen het — dat die Here Israel uit Egipte uitgelei het —
2het Jetro, Moses se skoonvader, Sippóra, die vrou van Moses, geneem — nadat hy haar teruggestuur het —
3en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het 'n vreemdeling geword in 'n vreemde land;
4en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.)
5En Jetro, Moses se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Moses gekom in die woestyn waar hy by die berg van God met die laer gestaan het.
6En hy het Moses laat weet: Ek, jou skoonvader Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar.
7Daarop gaan Moses uit, sy skoonvader tegemoet, en hy het gebuig en hom gesoen; en hulle het na mekaar se welstand gevra en in die tent ingegaan.
8Moses vertel toe aan sy skoonvader alles wat die Here aan Farao en aan die Egiptenaars, ter wille van Israel, gedoen het; al die moeilikheid wat hulle op die pad oorgekom het, en dat die Here hulle verlos het.
9En Jetro het hom verheug oor al die goeie wat die Here aan Israel gedoen het, dat Hy hulle uit die hand van die Egiptenaars verlos het.
10Daarop sê Jetro: Geseënd is die Here wat julle verlos het uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van Farao, wat die volk onder die hand van die Egiptenaars uit verlos het.
11Nou weet ek dat die Here groter is as al die gode, naamlik in die saak waarin hulle vermetel was teen hulle.
12Daarop het Jetro, Moses se skoonvader, 'n brandoffer en slagoffers geneem tot eer van God. En Aäron en al die oudstes van Israel het gekom om saam met Moses se skoonvader brood te eet voor die aangesig van God.
13En die volgende dag het Moses gesit om reg te spreek vir die volk; en die volk het voor Moses gestaan van die môre tot die aand toe.
14En toe Moses se skoonvader sien alles wat hy vir die volk doen, sê hy: Wat is dit wat jy vir die volk doen? Waarom sit jy alleen, en die hele volk staan voor jou van die môre tot die aand toe?
15En Moses antwoord sy skoonvader: Omdat die volk na my kom om God te raadpleeg.
16As hulle 'n saak het, kom hulle na my; en dan moet ek regspreek tussen die partye en die insettinge van God en sy wette bekend maak.
17Maar Moses se skoonvader sê vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie.
18Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie.
19Luister nou na my; ek sal jou raad gee, en God sal met jou wees. Wat jou betref, wees jy die verteenwoordiger van die volk by God en bring jy die sake voor God,
20en onderrig hulle in die insettinge en die wette, en maak hulle die weg bekend waarop hulle moet gaan, en die werk wat hulle moet doen.
21Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle: owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien;
22en laat hulle voortdurend oor die volk die regspraak uitoefen: al die groot sake moet hulle na jou bring, maar in al die klein sake moet hulle self regspreek. Maak dit so ligter vir jou, en laat hulle saam met jou dra.
23As jy dit doen en God dit jou beveel, kan jy dit uithou en sal ook al hierdie mense tevrede na hulle woonplek gaan.
24Moses het toe geluister na sy skoonvader en alles gedoen wat hy gesê het —
25Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel — owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien.
26En hulle het voortdurend oor die volk die regspraak uitgeoefen: die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar in al die klein sake self reggespreek.
27Toe het Moses sy skoonvader laat gaan, en hy het na sy land getrek.