Aankoms by Sinai.
1IN die derde maand ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die woestyn Sinai gekom —
2hulle het van Ráfidim af opgebreek en in die woestyn Sinai gekom en in die woestyn laer opgeslaan. En Israel het daar teenoor die berg laer opgeslaan.
3Maar Moses het opgeklim na God toe, en die Here het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig:
4Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.
5As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.
6En júlle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.
7En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die Here hom beveel het.
8Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die Here oorgebring.
9En die Here het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in 'n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jóú kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die Here meegedeel.
10Verder het die Here aan Moses gesê: Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre, en laat hulle hul klere was
11en hulle gereed hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal die Here voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal.
12Ook moet jy vir die volk 'n grens rondom aanwys en sê: Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word.
13Geen hand mag hom aanraak nie; maar hy moet sekerlik gestenig of sekerlik met 'n pyl geskiet word; of dit 'n dier of 'n mens is — hy mag nie lewe nie. As die ramshoring lang geluide blaas, mag hulle op die berg klim.
14Toe het Moses van die berg af na die volk gegaan en die volk geheilig, en hulle het hul klere gewas.
15En hy het aan die volk gesê: Hou julle klaar teen die derde dag; moenie naby die vrou kom nie.
16En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en 'n swaar wolk op die berg en die geluid van 'n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het.
17Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg.
18En die hele berg Sinai het gerook, omdat die Here in 'n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van 'n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe.
19Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord.
20Terwyl die Here op die berg Sinai neerdaal, op die top van die berg, het die Here Moses na die top van die berg geroep, en Moses het opgeklim.
21En die Here het vir Moses gesê: Klim af, waarsku die volk, dat hulle nie na die Here toe deurbreek om te sien en baie van hulle dan val nie.
22En ook die priesters wat naby die Here kom, moet hulleself heilig, sodat die Here nie teen hulle losbreek nie.
23Toe het Moses die Here geantwoord: Die volk kan nie op die berg Sinai klim nie, want U het ons self gewaarsku en gesê: Baken die berg af en heilig dit.
24Daarop sê die Here vir hom: Gaan heen, klim af. Dan moet jy, en Aäron saam met jou, opklim; maar die priesters en die volk mag nie deurbreek om na die Here toe op te klim nie, sodat Hy nie teen hulle losbreek nie.
25En Moses het na die volk toe afgeklim en hulle dit aangesê.