1DAARNA het Hy vir my gesê: Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel.
2Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet
3en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.
4En Hy het vir my gesê: Mensekind, kom, gaan na die huis van Israel, en spreek hulle aan met my woorde;
5want jy is nie gestuur na 'n volk wat duister van spraak en swaar van tong is nie, maar na die huis van Israel;
6nie na baie volke wat duister van spraak en swaar van tong is nie, wie se woorde jy nie kan verstaan nie; as Ek jou tog na hulle gestuur het, het húlle na jou geluister!
7Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het 'n harde voorhoof en 'n ongevoelige hart.
8Kyk, Ek maak jou aangesig hard net soos hulle aangesig en jou voorhoof hard net soos hulle voorhoof.
9Jou voorhoof maak Ek hard soos 'n diamant, harder as 'n rots; jy mag nie vir hulle bevrees of vir hulle verskrik wees nie, omdat hulle 'n wederstrewige huis is.
10Verder het Hy vir my gesê: Mensekind, neem al my woorde wat Ek vir jou sal sê, in jou hart op, en hoor hulle met jou ore;
11en kom, gaan na die ballinge, na die kinders van jou volk, en spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here Here — of hulle al luister of nie.
12Toe het die Gees my opgeneem, en ek het agter my die geluid van 'n groot gedreun gehoor wat sê: Geloofd sy die heerlikheid van die Here uit sy woonplek!
13En ek het gehoor die geluid van die wesens se vlerke wat die een aan die ander verbind was, en die geluid van die wiele gelyktydig daarmee en die geluid van 'n groot gedreun.
14Toe het die Gees my opgehef en my weggeneem, en ek het gegaan, verbitterd in die grimmigheid van my gees; maar die hand van die Here was sterk op my.
15En ek het by die ballinge gekom in Tel-Abib, wat by die Kebarrivier gewoon het, en by die plek van hulle woning; en ek het daar sewe dae lank verstom in hulle midde gesit.
Eségiël as wag aangestel.
16EN aan die einde van sewe dae het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
17Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy 'n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.
18As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe — en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
19Maar as jý die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jý het jou siel gered.
20En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
21Maar as jý die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.
22En die hand van die Here was daar op my, en Hy het vir my gesê: Staan op, gaan uit na die laagte, en Ek sal daar met jou spreek.
23Ek staan toe op en gaan na die laagte uit; en kyk, die heerlikheid van die Here het daar gestaan soos die heerlikheid wat ek by die Kebarrivier gesien het. En ek het op my aangesig geval.
24Toe kom die Gees in my en laat my op my voete staan; en Hy het met my gespreek en vir my gesê: Gaan in, sluit jou toe in jou huis.
25En jy, mensekind, kyk, hulle sit vir jou toue aan en bind jou daarmee, sodat jy nie onder hulle kan uitgaan nie.
26En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klewe, sodat jy stom sal word en vir hulle geen bestraffer sal wees nie; want hulle is 'n wederstrewige huis.
27Maar as Ek met jou spreek, sal Ek jou mond open, en jy moet aan hulle sê: So spreek die Here Here. Wie hoor, laat hom hoor; en wie dit nalaat, laat hom dit nalaat; want hulle is 'n wederstrewige huis.