Kores, die Persiese koning, gee die Jode verlof om na hulle land terug te gaan.
1EN in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die Here — sodat die woord van die Here uit die mond van Jeremia vervul sou word — die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy 'n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê:
2So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.
3Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort — mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die Here, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is.
4En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef — hom moet die manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee, en met die vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is.
5Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin klaargemaak, en die priesters en die Leviete — elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek, om die huis van die Here wat in Jerusalem is, te bou.
6En almal wat rondom hulle was, het hul hande versterk met silwervoorwerpe, met goud, met goed en vee en kosbare geskenke, behalwe alles wat hulle as vrywillige gawe aangebring het.
7En koning Kores het die voorwerpe van die huis van die Here uitgelewer wat Nebukadnésar uit Jerusalem weggevoer en in die huis van sy god gesit het.
8En Kores, die koning van Persië, het dit uitgelewer onder toesig van Mítredat, die skatmeester; en dié het dit aan Sésbassar, die vors van Juda, voorgetel.
9En dit was hulle getal: dertig goue komme, duisend silwerkomme, negen-en-twintig messe;
10dertig goue bekers; verder vierhonderd-en-tien silwerbekers, duisend ander voorwerpe.
11Al die voorwerpe van goud en silwer was: vyfduisend-vierhonderd; dit alles het Sésbassar saamgebring toe die ballinge uit Babel na Jerusalem opgetrek het.