Vlug van Jakob en sy verbond met Laban.
1TOE hoor hy die woorde van die seuns van Laban, dat hulle sê: Jakob het alles geneem wat ons vader s'n was; en uit wat ons vader s'n was, het hy al hierdie rykdom verwerf.
2Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir hom was soos gister en eergister nie.
3En die Here het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees.
4Toe stuur Jakob en laat Ragel en Lea veld toe roep na sy kleinvee
5en sê vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was met my.
6En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het;
7maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie.
8As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes. En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes.
9So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee.
10Eenkeer, in die tyd toe die kleinvee verhit was, het ek my oë opgeslaan en in 'n droom gesien dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was.
11En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek!
12En Hy sê: Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Laban jou aandoen.
13Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My 'n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland.
14Toe antwoord Ragel en Lea en sê vir hom: Het ons nog deel of erfenis in die huis van ons vader?
15Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring.
16Want al die rykdom wat God van ons vader weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Doen dan nou alles wat God jou gesê het.
17Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele,
18en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kanaän.
19Onderwyl Laban gaan om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode van haar vader gesteel.
20En Jakob het Laban, die Arameër, mislei deur hom nie te vertel dat hy wou vlug nie.
21So het hy dan gevlug met alles wat hy gehad het: hy het hom klaargemaak en deur die Eufraat gegaan en sy aangesig gerig na die gebergte van Gílead.
22En op die derde dag kry Laban die tyding dat Jakob gevlug het.
23Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom agternagejaag, 'n afstand van sewe dae, en hom ingehaal in die gebergte van Gílead.
24Maar God het na Laban, die Arameër, in die nag gekom in 'n droom en vir hom gesê: Pas nou op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie.
25En Laban het Jakob ingehaal; Jakob het sy tent al opgeslaan gehad in die gebergte, en Laban met sy broers het dit opgeslaan in die gebergte van Gílead.
26Toe vra Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy my mislei en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer het?
27Waarom het jy stilletjies gevlug en my mislei en my dit nie vertel nie, dat ek jou met vrolikheid en liedere, met tamboeryn en siter kon weggebring het?
28Ook het jy my nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy dwaas gehandel.
29Dit is in my mag om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het verlede nag met my gespreek en gesê: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad te spreek nie.
30Nou is jy dan eenmaal aan trek, omdat jy so erg verlang het na die huis van jou vader — maar waarom het jy my gode gesteel?
31Toe antwoord Jakob en sê vir Laban: Omdat ek bevrees was, want ek het gedink u sal miskien u dogters met geweld van my wegneem.
32Die een by wie u u gode vind — hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.
33Toe gaan Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent van die twee slavinne, maar hy het niks gekry nie; en toe hy uit die tent van Lea uitgaan, kom hy in die tent van Ragel.
34Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie.
35Daarop sê sy vir haar vader: My heer moet nie baie kwaai kyk nie, omdat ek nie vir u kan opstaan nie; want dit gaan met my volgens die reël van die vroue. En hy het gesoek maar die huisgode nie gekry nie.
36Toe word Jakob kwaad, en hy het met Laban getwis; en Jakob het geantwoord en vir Laban gesê: Wat is my oortreding, wat is my sonde, dat u my so vurig agternagesit het?
37Nou dat u al my goed deurgevoel het — wat het u van al u huisraad gevind? Sit dit hier neer voor my broers en u broers, en laat hulle oordeel tussen ons twee.
38Twintig jaar was ek nou by u. U skaap- en bokooie het geen misdrag gehad nie, en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie.
39Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie: ek moes dit vergoed; van my hand het u dit geëis, of dit al bedags gesteel is of snags gesteel is.
40Ek was 'n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue, en my slaap het gevlug van my oë.
41Twintig jaar was ek nou in u huis; veertien jaar het ek u gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee; en u het my loon tien maal verander.
42As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie — ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel.
43Toe antwoord Laban en sê vir Jakob: Die dogters is my dogters, en die seuns is my seuns, en die kleinvee is my kleinvee, ja, alles wat jy sien, is myne; maar my dogters — wat sal ek hulle vandag kan aandoen of aan hulle seuns wat hulle gebaar het?
44Kom dan nou, laat ons 'n verbond sluit, ek en jy, dat dit 'n getuie tussen my en jou kan wees.
45Daarop het Jakob 'n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig.
46En Jakob het aan sy broers gesê: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe gaan haal en 'n hoop gemaak en daar op die hoop geëet.
47En Laban het dit Jegar-Sahadúta genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem.
48Toe sê Laban: Hierdie hoop is vandag 'n getuie tussen my en jou. Daarom het hulle dit Gal-ed genoem,
49en ook Mispa, omdat hy gesê het: Mag die Here wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie.
50As jy my dogters mishandel, en as jy vroue neem by my dogters, dan is geen mens by ons nie: Kyk, God is getuie tussen my en jou.
51Verder sê Laban vir Jakob: Daar is dié hoop klippe, en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het —
52hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jý na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie.
53Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.
54Toe het Jakob 'n offer gebring op die gebergte en sy broers genooi om brood te eet. En hulle het brood geëet en die nag in die gebergte oorgebly.
55En Laban het die môre vroeg opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Daarna het Laban vertrek en teruggekeer na sy woonplek.