Dina en die Sigemiete.
1EN Dina, die dogter van Lea, wat sy vir Jakob gebaar het, het uitgegaan om die dogters van die land te leer ken.
2Toe Sigem, die seun van Hemor, die Hewiet, die vors van die land, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad en haar onteer.
3En sy siel het verkleef geraak aan Dina, die dogter van Jakob; en hy het die dogter liefgehad en na die hart van die dogter gespreek.
4Sigem het ook met sy vader Hemor gespreek en gesê: Neem daardie dogter vir my as vrou.
5Toe Jakob dan hoor dat hy sy dogter Dina onteer het, was sy seuns by sy vee in die veld; en Jakob het geswyg totdat hulle gekom het.
6En Hemor, die vader van Sigem, het na Jakob uitgegaan om met hom te spreek.
7En die seuns van Jakob het uit die veld gekom toe hulle dit hoor; en die manne was gegrief en baie kwaad, omdat hy 'n skanddaad in Israel begaan het deur met die dogter van Jakob gemeenskap te hou: so iets mag nie gebeur het nie.
8Toe spreek Hemor met hulle en sê: Die siel van my seun Sigem is verlief op julle dogter: gee haar tog aan hom as vrou
9en verswaer julle met ons: gee aan ons julle dogters, en neem vir julle ons dogters.
10Bly maar by ons woon, en die land sal voor julle oop lê; woon en trek rond daarin en verwerf vaste besittings daarin.
11En Sigem sê vir haar vader en haar broers: Laat my guns vind in julle oë, en wat julle van my eis, sal ek gee.
12Vra my 'n baie groot koopprys en geskenk, en ek sal dit gee soos julle aan my sê; gee my net die dogter as vrou.
13Toe antwoord die seuns van Jakob vir Sigem en Hemor, sy vader, met bedrog — hulle het so gespreek, omdat hy hulle suster Dina onteer het —
14en sê vir hulle: Ons kan dit nie doen om ons suster aan 'n man te gee wat die voorhuid het nie, want dit sou 'n skande vir ons wees.
15Net op hierdie voorwaarde kan ons inwillig: as julle word soos ons deurdat almal wat manlik is onder julle, besny word.
16Dan sal ons ons dogters aan julle gee, en ons sal julle dogters vir ons neem; en ons sal by julle woon en een volk word.
17Maar as julle nie na ons luister om besny te word nie, dan neem ons ons dogter en ons trek weg.
18En hulle woorde was goed in die oë van Hemor en in die oë van Sigem, die seun van Hemor.
19En die jongman het nie versuim om dit te doen nie, want hy het sin gehad in die dogter van Jakob, en hy was die mees geëerde in die hele huis van sy vader.
20Toe gaan Hemor en sy seun Sigem na die poort van hulle stad, en hulle spreek met die manne van hul stad en sê:
21Hierdie manne lewe in vrede met ons; daarom, laat hulle in die land woon en daarin rondtrek: die land lê mos alkante toe wyd voor hulle. Ons kan hulle dogters vir ons as vroue neem, en ons sal ons dogters aan hulle gee.
22Maar net op hierdie voorwaarde sal die manne inwillig om by ons te woon, om een volk te word: as almal wat manlik is onder ons, besny word soos hulle besny is.
23Hulle vee en hulle besittings en al hulle diere — sal dit nie ons s'n wees nie? Laat ons net inwillig, sodat hulle by ons kan bly woon.
24En hulle het geluister na Hemor en na sy seun Sigem — almal wat uit sy stadspoort uitgegaan het; en almal wat manlik was, is besny, almal wat uit sy stadspoort uitgegaan het.
25Maar op die derde dag, toe hulle in die pyn was, neem die twee seuns van Jakob, Símeon en Levi, broers van Dina, elkeen sy swaard, en hulle oorval die sorgelose stad en slaan almal dood wat manlik was.
26Hulle slaan ook Hemor en sy seun Sigem dood met die skerpte van die swaard; daarna neem hulle Dina uit die huis van Sigem uit en vertrek.
27Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes afgekom en die stad geplunder, omdat hulle hulle suster onteer het.
28Hulle kleinvee en hulle beeste en hulle esels — wat in die stad en in die veld was — het hulle weggeneem.
29En al hulle goed en al hulle kinders en hulle vroue het hulle as gevangenes weggevoer en as buit, en ook alles wat in die huise was.
30Toe sê Jakob vir Símeon en Levi: Julle het my ontroer dat julle my gehaat gemaak het by die inwoners van die land, die Kanaäniete en Feresiete, terwyl ek 'n klein klompie is. As hulle hul teen my versamel, sal hulle my verslaan, en ek sal verdelg word, ek en my huis.
31Toe antwoord hulle: Hoe durf hy dan ons suster as 'n hoer behandel!