Juda en Tamar.
1IN dié tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na 'n man van Adúllam met die naam van Hira.
2En Juda het daar die dogter van 'n Kanaänitiese man gesien met die naam van Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan.
3En sy het bevrug geword en 'n seun gebaar, en sy het hom Er genoem.
4Daarna het sy weer bevrug geword en 'n seun gebaar en hom Onan genoem.
5En sy het nog weer 'n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe sy hom gebaar het.
6En Juda het vir Er, sy eersgeborene, 'n vrou geneem, en haar naam was Tamar.
7Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die Here mishaag. Daarom het die Here hom laat sterwe.
8Toe sê Juda vir Onan: Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer 'n nageslag.
9Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie.
10En dit was verkeerd in die oë van die Here wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe.
11Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter: Bly 'n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is. Want hy het gedink: Anders sterwe hy ook soos sy broers! So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.
12En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet.
13En hulle het Tamar te kenne gegee en gesê: Kyk, jou skoonvader gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer.
14Toe trek sy die klere van haar weduweeskap uit en bedek haar met 'n sluier en draai haar toe; en sy het gaan sit by die ingang van Enaim wat op die pad na Timna lê. Want sy het gesien dat Sela groot geword het, maar sy was aan hom nie as vrou gegee nie.
15Toe Juda haar sien, het hy haar vir 'n hoer gehou, omdat sy haar gesig toegebind het;
16en hy het na haar uitgedraai by die pad en gesê: Kom tog, laat my by jou ingaan; want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie. En sy vra: Wat sal jy my gee as jy by my ingaan?
17En hy antwoord: Ek sal jou 'n boklam van die kleinvee af stuur. Toe sê sy: As jy 'n pand gee totdat jy dit stuur.
18En hy sê: Wat is die pand wat ek jou moet gee? Toe antwoord sy: Jou seëlring met die bandjie en jou staf wat in jou hand is. Hy gee dit toe aan haar en gaan by haar in, en sy het by hom swanger geword.
19En sy het opgestaan en weggegaan en haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek.
20En Juda het die boklam gestuur deur middel van sy vriend, die Adullamiet, om die pand uit die hand van die vrou te gaan haal. Maar hy het haar nie gevind nie.
21Toe vra hy die mense van haar woonplek: Waar is daardie hoer wat in Enaim by die pad was? En hulle antwoord: Hier was geen hoer nie.
22Daarop gaan hy na Juda terug met die berig: Ek het haar nie gevind nie. En die mense van die plek het ook gesê: Hier was geen hoer nie.
23Toe sê Juda: Laat sy dit hou, dat ons nie 'n bespotting word nie. Kyk, ek het hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gevind nie.
24Ná omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê: Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda sê: Bring haar uit, dat sy verbrand kan word.
25Terwyl sy uitgebring word, laat sy haar skoonvader dit weet: By die man aan wie hierdie dinge behoort, is ek swanger. En sy het gesê: Kyk tog mooi aan wie hierdie seëlring en bandjies en staf behoort.
26En Juda het dit herken en gesê: Sy het reg teenoor my, want ek het haar mos nie aan my seun Sela gegee nie. En hy het haar verder nie meer beken nie.
27En toe sy sou baar, was daar 'n tweeling in haar skoot.
28En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit gegryp en 'n rooi draad om sy hand gebind en gesê: Hierdie een is eerste gebore.
29Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore! En sy sê: Hoe kragtig het jy deurgebreek! En hulle het hom Peres genoem.
30En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was. En hulle het hom Serag genoem.