Israel se sonde en sy kastyding.
1AS Efraim net gespreek het, was daar siddering; hoog het hy gestaan in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak deur die Baäl en gesterwe.
2En nou gaan hulle voort om te sondig en het vir hulle 'n gegote beeld van hulle silwer gemaak, afgode volgens hulle insig, geheel en al smidswerk; van hulle word gesê: Die mense wat offer, vereer kalwers met kusse!
3Daarom sal hulle wees soos 'n môrewolk en soos dou wat vroeg weer verdwyn, soos kaf wat wegvlieg van die dorsvloer en soos rook uit die venster.
4Tog was Ek, die Here, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie.
5Ek het jou in die woestyn geken, in die land van droogtes.
6Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.
7Toe het Ek vir hulle soos 'n leeu geword, soos 'n luiperd lê Ek by die pad en loer.
8Ek val hulle aan soos 'n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos 'n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur.
9Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.
10Waar is nou jou koning, dat hy jou kan verlos in al jou stede, en jou regters van wie jy gesê het: Gee my 'n koning en vorste?
11Ek gee jou 'n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid.
12Saamgebind is die ongeregtigheid van Efraim, weggebêre is sy sonde.
13Barensweë sal hom oorval, hy is 'n onverstandige kind; want as die tyd daar is, stel hy hom nie in die kindergeboorte nie.
14Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf? Berou bly vir my oë verborge.
15Wanneer hy vrug dra onder die broers, kom 'n oostewind, 'n wind van die Here, wat uit die woestyn opkom; dan droog sy fontein op en sy bron dor uit. Dié sal 'n skat van allerhande kosbare voorwerpe roof.