Jeremia waarsku die volk om nie na Egipte te gaan nie.
1TOE het al die owerstes van die leërs aangekom, naamlik Jóhanan, die seun van Karéag, en Asárja, die seun van Hosája, en die hele volk, klein en groot,
2en aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die Here u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel — want ons het as 'n klein klompie uit baie oorgebly, soos u oë ons sien —
3dat die Here u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen.
4En die profeet Jeremia het hulle geantwoord: Ek hoor; kyk, ek sal tot die Here julle God bid volgens julle woorde; en alles wat die Here julle antwoord, sal ek julle bekend maak; ek sal vir julle niks agterhou nie.
5Toe sê hulle vir Jeremia: Laat die Here 'n waaragtige en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie stip handel ooreenkomstig elke woord waarmee die Here u God u na ons sal stuur nie.
6Laat dit goed of sleg wees — ons sal luister na die stem van die Here onse God na wie ons u stuur, dat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die Here onse God.
7En aan die einde van tien dae het die woord van die Here tot Jeremia gekom,
8en hy het Jóhanan, die seun van Karéag, geroep en al die owerstes van die leërs wat by hom was, en die hele volk, klein en groot,
9en aan hulle gesê: So spreek die Here, die God van Israel, na wie julle my gestuur het om julle smeking eerbiediglik voor sy aangesig te bring:
10As julle rustig in hierdie land bly, sal Ek julle bou en nie afbreek nie, en julle plant en nie uitruk nie; want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het.
11Vrees nie vir die koning van Babel vir wie julle bang is nie; wees nie vir hom bevrees nie, spreek die Here, want Ek is met julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red.
12En Ek sal julle barmhartigheid bewys, sodat hy hom oor julle sal ontferm en julle terugbring na julle land toe.
13Maar as julle sê: Ons wil in hierdie land nie bly nie, sodat julle nie luister na die stem van die Here julle God nie,
14en sê: Nee, maar ons sal na Egipteland trek waar ons geen oorlog sal sien of basuingeluid sal hoor of honger na brood sal hê nie, en daar wil ons woon —
15daarom hoor dan nou die woord van die Here, o oorblyfsel van Juda! So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: As julle werklik julle aangesig rig om na Egipte te trek en weggaan om daar as vreemdelinge te vertoef,
16dan sal die swaard waar julle voor vrees, julle daar in Egipteland inhaal; en die honger waar julle voor bang is, sal daar in Egipte kort agter julle aankom, en julle sal daar sterwe.
17Ja, al die manne wat hulle aangesig gerig het om na Egipte te trek om daar as vreemdelinge te vertoef, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood en die pes; en daar sal vir hulle niemand wees wat vryraak of ontvlug van die onheil wat Ek oor hulle bring nie.
18Want so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Soos my toorn en my grimmigheid uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my grimmigheid oor julle uitgestort word as julle na Egipte trek; en julle sal wees 'n voorwerp van verwensing, van verbasing, van vervloeking en van smaad, en julle sal hierdie plek nie meer sien nie.
19Die Here het oor julle gespreek, o oorblyfsel van Juda: Trek nie na Egipte nie! Weet verseker dat ek julle vandag waarsku.
20Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe, dat júlle my na die Here julle God gestuur het, met die woorde: Bid tot die Here onse God vir ons; en net soos die Here onse God sal sê, maak dit ons so bekend en ons sal dit doen.
21So het ek julle dit dan vandag bekend gemaak, en julle het nie geluister na die stem van die Here julle God, naamlik na alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie.
22Weet dan nou verseker dat julle deur die swaard, die hongersnood en die pes sal sterwe in die plek waarheen julle verkies om te trek om daar as vreemdelinge te vertoef.