JONA 3
Die prediking van Jona, en die bekering van die stad Ninevé.
1EN die woord van die Here het vir die tweede maal tot Jona gekom en gesê:
2Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê.
3Toe maak Jona hom klaar en gaan na Ninevé volgens die woord van die Here. En Ninevé was 'n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet.
4En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes.
5En die manne van Ninevé het God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee.
6En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit.
7En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot manne — geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie;
8maar mens en dier moet 'n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep, en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef.
9Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie?
10En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.