Wette omtrent die olie vir die lampe van die tabernakel en die toonbrode.
1EN die Here het met Moses gespreek en gesê:
2Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar moet bring, om gedurigdeur 'n brandende lamp te hê.
3Aäron moet dit buitekant die voorhangsel van die Getuienis, in die tent van samekoms, regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van die Here, gedurigdeur. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte.
4Hy moet op die rein kandelaar die lampe regmaak om te brand voor die aangesig van die Here, gedurigdeur.
5Jy moet ook fynmeel neem en twaalf koeke daarvan bak, twee-tiendes van 'n efa moet elke koek wees;
6en jy moet hulle in twee stapels neersit, ses in 'n stapel, op die rein tafel voor die aangesig van die Here.
7En by elke stapel moet jy suiwer wierook byvoeg, wat vir die brood as gedenkoffer moet dien, as vuuroffer aan die Here.
8Op elke sabbatdag moet hy dit gedurigdeur voor die aangesig van die Here regsit, van die kant van die kinders van Israel as 'n ewige insetting.
9En dit moet aan Aäron en sy seuns toekom: hulle moet dit in 'n heilige plek eet; want as iets hoogheiligs behoort dit aan hom uit die vuuroffers van die Here — 'n ewige insetting.
Straf vir die godslasteraar en ander misdadigers.
10EN die seun van 'n Israelitiese vrou — maar hy was die seun van 'n Egiptiese man — het uitgegaan tussen die kinders van Israel in; en die seun van die Israelitiese vrou en 'n Israelitiese man het met mekaar geveg in die laer.
11Toe het die seun van die Israelitiese vrou die Naam gelaster en gevloek. Daarom het hulle hom na Moses gebring. En die naam van sy moeder was Selómit, die dogter van Dibri, van die stam van Dan.
12En hulle het hom in die gevangenis gesit, dat hulle 'n beslissing kon verkry volgens die uitspraak van die Here.
13En die Here het met Moses gespreek en gesê:
14Bring die vloeker buitekant die laer uit, en almal wat dit gehoor het, moet hulle hande op sy hoof lê; dan moet die hele vergadering hom stenig.
15En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sy God vloek, sal hy sy sonde dra.
16En wie die Naam van die Here laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig. Die vreemdeling net soos die kind van die land — as hy die Naam laster, moet hy gedood word.
17En as iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik gedood word.
18Maar hy wat 'n stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; lewe vir lewe.
19En as iemand aan sy naaste 'n liggaamsgebrek toebring — soos hy gedoen het, net so moet ook aan hom gedoen word:
20breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand — dieselfde liggaamsgebrek wat hy aan 'n mens toebring, moet ook aan hom toegebring word.
21Hy dan wat 'n stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; maar hy wat 'n mens doodslaan, moet gedood word.
22Net een wet moet daar vir julle wees — die vreemdeling moet soos die kind van die land wees; want Ek is die Here julle God.
23Moses het toe met die kinders van Israel gespreek, en hulle het die vloeker buitekant die laer uitgebring en hom gestenig. En die kinders van Israel het gedoen soos die Here Moses beveel het.