Die sending van die sewentig dissipels.
1EN ná hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.
2Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.
3Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe.
4Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene dra nie, en groet niemand op die pad nie.
5En in watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis!
6En as dáár 'n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit tot julle terugkeer.
7Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis gaan nie.
8En in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang, eet wat aan julle voorgesit word.
9En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.
10Maar in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul nie ontvang nie, gaan uit op sy strate en sê:
11Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.
12En Ek sê vir julle: Vir Sodom sal dit verdraagliker wees in dié dag as vir daardie stad.
13Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het.
14Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel verdraagliker wees as vir julle.
15En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.
16Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.
17En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.
18Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val.
19Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.
20Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.
21In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.
22Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.
23En Hy het Hom omgedraai na sy dissipels en afsonderlik aan hulle gesê: Salig is die oë wat sien wat julle sien;
24want Ek sê vir julle, baie profete en konings het gewens om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.
Gelykenis van die barmhartige Samaritaan.
25EN daar het 'n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?
26En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?
27En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.
28Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.
29Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?
30En Jesus antwoord en sê: 'n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê.
31En bygeval het 'n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby.
32En net so het ook 'n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan.
33Maar 'n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel,
34en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na 'n herberg geneem en vir hom gesorg.
35En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.
36Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?
37En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.
Martha en Maria.
38EN op hulle reis het Hy in 'n sekere dorp gekom, en 'n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang.
39En sy het 'n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister.
40Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.
41Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge;
42maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.