Gelykenis van die bruilof.
1EN Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê:
2Die koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het
3en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie.
4Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.
5Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en 'n ander na sy handelsaak.
6En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak.
7Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.
8Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie.
9Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.
10En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword.
11En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie 'n bruilofskleed aan het nie.
12En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie.
13Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
14Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Die vraag oor die belasting.
15TOE gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik.
16En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie —
17sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?
18Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê:
19Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom 'n penning gebring.
20En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?
21Hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.
22En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.
Die Sadduseërs en die opstanding.
23DIESELFDE dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom
24en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek.
25Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.
26So ook die tweede en die derde tot die sewende toe.
27En laaste van almal het die vrou ook gesterwe.
28In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees — want hulle almal het haar gehad?
29Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.
30Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.
31En wat die opstanding van die dode betref — het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:
32Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes.
33En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.
Die groot gebod.
34EN toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader.
35En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:
36Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38Dit is die eerste en groot gebod.
39En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
Die Christus, seun van Dawid.
41EN toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle
42en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s'n.
43Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê:
44Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete?
45As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?
46En niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.