Die getal stede wat aan die Leviete afgestaan moes word. Die ses vrystede.
1EN die Here het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê:
2Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle aan die Leviete van hulle erflike besitting stede gee om te bewoon; ook moet julle weiveld rondom die stede aan die Leviete gee.
3En die stede moet vir hulle dien om te bewoon; maar die weiveld wat daarby behoort, moet vir hulle diere en hulle besitting en al hulle lewende hawe wees.
4En die weiveld van die stede wat julle aan die Leviete gee, moet van die stadsmuur af buitentoe duisend el rondom wees.
5En julle moet buitekant die stad meet: aan die oostekant tweeduisend el en aan die suidekant tweeduisend el en aan die westekant tweeduisend el en aan die noordekant tweeduisend el, en die stad in die middel. Dit moet vir hulle as weiveld van die stede dien.
6En die stede wat julle aan die Leviete gee, moet die ses vrystede wees wat julle moet gee, dat die een wat 'n doodslag begaan het, daarheen kan vlug; en daarby moet julle twee-en-veertig stede gee.
7Al die stede wat julle aan die Leviete gee, moet wees agt-en-veertig stede, hulle saam met hul weiveld.
8En wat die stede betref wat julle uit die besitting van die kinders van Israel gee — julle moet van die wat baie is, baie neem, en van die wat min is, min neem; elke stam moet van sy stede aan die Leviete gee volgens die erfdeel wat elkeen gaan kry.
9Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:
10Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan na die land Kanaän trek,
11moet julle gunstig geleë stede vir julle uitsoek; as vrystede moet hulle vir julle dien, dat die een wat 'n doodslag begaan het, een wat per ongeluk 'n mens doodgeslaan het, daarheen kan vlug.
12En die stede moet vir julle as toevlug dien vanweë die bloedwreker, sodat hy wat 'n doodslag begaan het, nie sterwe voordat hy voor die vergadering gestaan het om geoordeel te word nie.
13En die stede wat julle gee, moet vir julle, ses in getal, as vrystede dien.
14Drie van die stede moet julle oos van die Jordaan gee, en drie daarvan moet julle in die land Kanaän gee; vrystede moet hulle wees.
15Vir die kinders van Israel en die vreemdeling en die bywoner onder hulle moet hierdie ses stede as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk 'n mens doodgeslaan het.
16Maar as hy hom slaan met 'n ystervoorwerp, sodat hy sterwe, dan is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
17En as hy hom slaan met 'n klip in die hand — waardeur iemand kan sterwe — en hy sterwe, dan is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
18Of as hy hom slaan met 'n houtvoorwerp in die hand — waardeur iemand kan sterwe — en hy sterwe, dan is hy 'n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
19Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak; as hy hom kry, moet hy hom doodmaak.
20En as hy hom uit haat stamp of met opset na hom gooi, sodat hy sterwe,
21of hom uit vyandskap met sy hand slaan, sodat hy sterwe, dan moet hy wat geslaan het, sekerlik gedood word; hy is 'n moordenaar; die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak as hy hom kry.
22Maar as hy hom onvoorsiens, sonder vyandskap, stamp of enigiets sonder opset na hom gooi;
23of as hy enige klip waardeur iemand kan sterwe — as hy, sonder om dit te sien, dit op hom laat val, sodat hy sterwe, terwyl hy geen vyand van hom was en sy onheil nie gesoek het nie,
24dan moet die vergadering tussen hom wat doodgeslaan het, en die bloedwreker oordeel volgens hierdie voorskrifte.
25En die vergadering moet hom wat 'n doodslag begaan het, red uit die hand van die bloedwreker, en die vergadering moet hom laat teruggaan na sy vrystad waarheen hy gevlug het; en hy moet daarin bly tot die dood van die hoëpriester wat met die heilige olie gesalf is.
26Maar as hy wat 'n doodslag begaan het, ooit buitekant die grens van sy vrystad gaan waarheen hy moes vlug,
27en die bloedwreker hom buitekant die grens van sy vrystad kry, en die bloedwreker hom doodslaan wat 'n doodslag begaan het, dan sal daar vir hom geen bloedskuld wees nie.
28Want hy moet in sy vrystad bly tot die dood van die hoëpriester; maar ná die dood van die hoëpriester mag die een wat 'n doodslag begaan het, teruggaan na die land waar sy besitting lê.
29En dit moet vir julle 'n regsinsetting wees in julle geslagte, in al julle woonplekke.
30As iemand 'n mens doodslaan, moet die moordenaar op verklaring van getuies gedood word; maar een getuie is nie genoegsaam om iemand tot die dood te veroordeel nie.
31Maar julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van 'n moordenaar wat skuldig is om te sterwe nie, want hy moet sekerlik gedood word.
32Ook mag julle geen geld aanneem om iemand vry te stel van die vlug na sy vrystad — sodat hy kan teruggaan om in die land te woon — tot op die dood van die hoëpriester nie.
33En julle mag die land nie ontheilig waar julle in is nie; want die bloed ontheilig die land, en vir die land word geen versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, as net deur die bloed van hom wat dit vergiet het.
34En jy mag die land waar julle in woon, nie verontreinig nie, omdat Ek daarin woon; want Ek, die Here, woon in die midde van die kinders van Israel.