PSALM 6
'n Boetpsalm in groot benoudheid.
1VIR die musiekleier; met snaarinstrumente; met basstem. 'n Psalm van Dawid.
2o Here, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie.
3Wees my genadig, Here, want ek is verswak; maak my gesond, Here, want my gebeente is verskrik.
4Ja, my siel is baie verskrik; en U, Here, tot hoe lank?
5Keer terug, Here, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil.
6Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?
7Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane.
8My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders.
9Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die Here het die stem van my geween gehoor.
10Die Here het my smeking gehoor; die Here neem my gebed aan.
11Al my vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word; hulle sal in 'n oomblik beskaamd omdraai.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling met Deuterokanonieke Boeke
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953, 1965. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2015. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.