1WAAR het u beminde heengegaan, o skoonste onder die vroue? Waarheen het u beminde hom gewend, dat ons hom saam met u kan soek?
2My beminde het afgeloop na sy tuin, na die balsembeddings om hom te vermaak in die tuine en om lelies te versamel.
3Ek is my beminde s'n, en my beminde is myne — hy wat herder is onder die lelies.
4Mooi is u, my vriendin, soos Tirsa, lieflik soos Jerusalem, verskriklik soos slagordes met vaandels.
5Draai u oë van my af weg, want hulle verskrik my; u hare is soos 'n kudde bokke wat van Gílead afgolf.
6U tande is soos 'n kudde skaapooie wat van die drinkplek af opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie.
7U slape is soos 'n granaatskyf deur u sluier heen.
8Daar is sestig koninginne en tagtig byvroue en jonkvroue sonder getal.
9Een, dié is my duif, my volmaakte, die enigste vir haar moeder; sy is die uitverkorene vir die een wat haar gebaar het. Die dogters het haar gesien en haar gelukkig geprys, die koninginne en die byvroue, en haar geroem:
10Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels?
11Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom.
12Voordat ek dit geweet het, het my verlange my verplaas op die waens van my edele volk.
13Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien. Wat sien julle aan die Sulammitiese? Iets soos die koordans van Mahanáim.