Job: God slaan nie ag op die onreg nie
1“Waarom stel die Almagtige nie tye vas vir afrekening nie?
Waarom moet dié wat Hom ken, tevergeefs uitsien na sulke dae?
2Mense verskuif grenslyne,
hulle steel troppe vee en laat hulle by hulle eie vee wei,
3hulle vat die weeskind se donkie
en lê beslag op die bees van die weduwee,
4hulle druk die armes van die pad af;
die behoeftiges van die land moet wegkruip.
5Soos wildedonkies moet die armes in die woestyn gaan kos soek,
die dorre wêreld moet vir hulle kinders kos voorsien.
6Hulle oes veevoer op die land om dit self te eet,
hulle soek oorskiettrossies in die wingerde van die goddeloses.
7Hulle moet die nag kaal deurbring, sonder klere,
hulle het geen beskutting teen die koue nie.
8Hulle is deurnat van die reëns in die berge,
daar is geen skuiling nie, hulle hurk agter die rotse.
9Die weeskind word weggeruk van die bors waaraan hy drink,
die armes word vir skuld verpand.
10Hulle loop kaal rond, sonder klere,
hulle dra gerwe uit, maar ly honger,
11hulle trek die olyfpers,
hulle trap die parskuipe, maar bly dors.
12In die stad kerm die sterwendes,
dié wat aangerand is, roep om hulp,
maar God slaan nie ag op die onreg nie.”
Job: Hulle word soos koringare afgesny
13“Daar is mense wat nie die daglig verdra nie,
wat niks te doen wil hê met wat in die dag gebeur nie,
wat nie van die dag se paaie hou nie:
14die moordenaar staan op net voor ligdag,
hy vermoor die weerlose en die arme,
in die nag steel hy;
15die egbreker wag vir die donker,
hy dink geen oog sal hom sien nie,
hy vermom homself;
16die dief breek by huise in as dit donker is,
bedags kruip hy weg,
hy wil niks met die lig te doen hê nie.
17Vir elkeen van hulle is die donker soos die oggend,
hulle is tuis by die verskrikkings van die donker.
18“Maar hulle spoel vinnig weg op die water;
wat hulle besit, staan onder 'n vloek,
niemand werk meer in hulle wingerde nie.
19Soos droogte en hitte sneeu wegsmelt,
so maak die graf 'n einde aan die sondaar.
20Sy eie ma vergeet hom,
hy is kos vir die wurms,
daar word nie meer aan hom gedink nie.
Wie onreg doen, word soos 'n stuk hout gebreek.
21Hy het die kinderlose vrou geplunder
en nooit goed gedoen aan 'n weduwee nie.
22Maar God onderwerp die sterkes deur sy mag;
as Hy optree, het hulle geen sekerheid meer in die lewe nie.
23Hy gee miskien vir hulle 'n gevoel van sekerheid
waarop hulle kan steun,
maar Hy hou dop wat hulle doen.
24Net 'n kort tydjie is hulle belangrik,
dan is daar niks van hulle oor nie,
hulle stort inmekaar en sterf soos almal,
hulle word soos koringare afgesny.
25Is dit nie so nie?
Wie kan my tot leuenaar maak?
Wie kan my woorde weerlê?”