JOB 42
Job: In sak en as
1Daarna het Job vir die Here gesê:
2“Nou weet ek dat U tot alles in staat is
en dat U kan uitvoer wat U besluit.
3Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom
sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.
4U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat,
Ek sal vra, antwoord jy My.
5Tot nou toe het ek net gehoor
wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
6en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.”
Die Here: Job sal vir julle bid
7Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. 8Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as 'n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.”
Job het 'n vol lewe gehad
9Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor. 10Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. 11Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom 'n stuk silwer en 'n goue ring gegee. 12Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en 'n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het 'n vol lewe gehad.
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.