Die sorg vir die lampe
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Beveel die Israeliete om vir jou van die suiwerste olyfolie te bring vir die lamp in die heiligdom, sodat daar gereeld lig kan wees. 3Aäron moet sorg dat daar dwarsdeur die nag 'n lig brand in die tent van ontmoeting, voor die voorhangsel waaragter die ark met die getuienis is en waar die Here teenwoordig is. Dit is 'n vaste voorskrif ook vir julle nageslag. 4Aäron moet die lampe van die goue kandelaar gereeld versorg voor die Here.”
Die offerbrood
5“Jy moet koringmeel vat en twaalf ringbrode daarvan bak. Elke brood moet van drie kilogram meel gebak word. 6Pak dit in twee stapels van ses elk op die goue tafel voor die Here. 7Sit dan op elke stapel 'n bakkie suiwer wierook. Die wierook is 'n offer van die Here in die plek van die brood. 8Die brood moet gereeld op elke sabbat daar voor die Here vervang word. Dit is 'n verpligting wat vir altyd op die Israeliete rus. 9Die brood kom Aäron en sy seuns toe. Hulle moet dit op 'n gewyde plek eet, want dit is 'n besondere gewyde gawe. Dit is 'n deel wat hulle altyd moet kry uit die offers wat aan die Here gebring word.”
Straf vir laster, en ander strawwe
10-11Daar was 'n man tussen die Israeliete wat 'n Egiptiese pa en 'n Israelitiese ma gehad het. Sy ma se naam was Selomit. Sy was 'n dogter van Dibri, uit die stam Dan. Dié man het in die kamp met 'n man van suiwer Israelitiese afkoms in 'n woordewisseling betrokke geraak en die Godsnaam lasterlik gebruik. Hy is toe na Moses toe gevat 12en gevange gehou. Intussen is 'n beslissing van die Here oor die saak afgewag. 13Die Here het toe vir Moses gesê:
14“Vat die man wat gelaster het, uit die kamp uit. Laat almal wat hom hoor laster het, hulle hande op sy kop sit, en laat die hele gemeente hom daarna met klippe doodgooi. 15Sê dan vir die Israeliete: Elkeen wat vir God laster, sal die straf daarvoor kry. 16Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry. Die hele gemeente moet hom met klippe doodgooi. Dit geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge: wie die Godsnaam oneerbiedig gebruik, moet sterf.
17“Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry. 18As iemand 'n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang. Die beginsel is: 'n lewe vir 'n lewe.
19“As iemand 'n medemens beseer, moet aan hom presies dieselfde gedoen word: 20as hy iemand se been gebreek het, moet sý been ook gebreek word; as hy iemand se oog beskadig het, moet sý oog ook beskadig word; as hy iemand se tand uitgeslaan het, moet sý tand ook uitgeslaan word. Daar moet aan hom gedoen word wat hy aan sy medemens gedoen het.
21“As iemand 'n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang, maar as iemand 'n moord pleeg, moet hy die doodstraf kry. 22Hierdie beginsel geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge, want Ek, die Here, is julle God.”
23Moses het dit toe vir die Israeliete gesê. Hulle het die man wat gelaster het, uit die kamp gevat en hom met klippe doodgegooi. So het die Israeliete die bevele wat die Here vir Moses gegee het, uitgevoer.