Juwele uit die Psalms – Dag 15
Tel die dae
Bybelteks(te)
PSALMS 16
LUKAS 24
LUKAS 24
Paasnaweek is ʼn geleentheid vir baie mense om ʼn kort vakansie te geniet of om familie en vriende in ander dele van ons land te gaan besoek.
Duisende mense maak van ons paaie gebruik om so vining as moontlik by hulle bestemmings uit te kom. Elke jaar kan ons swaar verkeer verwag. Ongelukke gaan plaasvind en die slagting op ons paaie bly ʼn probleem.
Duisende mense gaan ook die kerke volpak. Gereelde kerkgangers en mense wat dalk nie gereeld kerk toe gaan nie sal nou, tydens een van die belangrikste dae op die Christelike kalender, bymekaarkom om die God te aanbid.
Op Goeie Vrydag herdenk ons die dood van Jesus Christus aan die kruis. Ons dink aan die fisiese lyding, die angs en die vernedering van die regverdigste mens wat ooit geleef het. Ons dink aan sy groot liefde vir ons. Hy, wat sonder sonde was, het ons sondes op Hom geneem om ons verlossing te verseker.
En toe, op daardie eerste Paassondag, het Jesus Christus uit die dood opgestaan. Sy liggaamlike opstanding is die hoeksteen van ons geloof. Hy het dit ook vir ons moontlik gemaak om nie aan die dood oorgegee te word nie, maar om met sy wederkoms nuwe onsterflike liggame te ontvang.
Voordat Jesus opgevaar het na die hemel het Hy ʼn baie spesiale boodskap vir sy dissipels gehad. Hy het vir hulle gesê: “ ‘Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is’ (…) Verder sê Hy vir hulle: ‘So staan daar geskrywe: “Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder” ’ ” (Lukas 24:44,46-47).
God het ons lief. Dit maak nie saak wie of wat ons is of hoe sleg ons lewens is nie. God wil en sal aan ons ʼn nuwe lewe skenk as ons ons sondes bely en Hom vra om ons te vergewe. Hou dit in gedagte in die week voor paasfees.