Vriendskapsverdrae met Rome en Sparta
1Toe Jonatan sien dat die tyd gunstig is, het hy manne gekies en na Rome gestuur om die vriendskapsverdrag met hulle te bevestig en te hernu. 2Met dieselfde doel het hy briewe na die Spartane gestuur, en na ander plekke. 3Hulle het na Rome gegaan, die senaatsaal binnegegaan en gesê: “Die hoëpriester Jonatan en die volk van die Judeërs het ons gestuur om die vriendskap en bondgenootskap van vroeër met hulle te hernu.” 4Die Romeine het aan hulle briewe gegee vir die mense in elke streek, sodat hulle hulle veilig tot in die land van Juda kon begelei.
5En hier volg die afskrif van die briewe wat Jonatan aan die Spartane geskryf het:
6“Die hoëpriester Jonatan, die Raad van Oudstes van die volk, die priesters en die res van die Judese burgers,
aan hulle broers, die Spartane:
Gegroet!
7“Daar is reeds vroeër briewe van Arius, wat oor julle regeer het, aan die hoëpriester Onias gestuur – dat julle ons broers is, soos die afskrif hieronder aantoon. 8Onias het die man wat gestuur is, eervol ontvang en die briewe waarin die bondgenootskap en vriendskap uiteengesit is, in ontvangs geneem. 9Alhoewel ons nie hierdie dinge nodig het nie, omdat ons die heilige •boekrolle wat in ons hande is, as bemoediging het, 10het ons probeer om 'n boodskap te stuur om die broederskap en vriendskap met julle te hernu sodat ons nie van julle vervreemd raak nie, want baie tyd het verloop vandat julle 'n boodskap aan ons gestuur het. 11Ons onthou julle egter steeds by elke geleentheid, op feesdae sowel as op ander geskikte dae wanneer ons offers bring, en in ons gebede, soos dit reg en gepas is om broers te onthou. 12Ons verbly ons oor julle aansien.
13“Baie verdrukkings en oorloë het ons omring en die konings in ons omstreke het teen ons oorlog gemaak. 14Ons wou julle of ons ander bondgenote en vriende egter nie lastig val tydens hierdie oorloë nie, 15want ons beskik oor Hulp uit die hemel wat ons help, en so is ons van ons vyande gered en is ons vyande verneder. 16Ons het dus vir Numenius, seun van Antiogus, en Antipater, seun van Jason, uitgekies en hulle na Rome gestuur om die vriendskap en bondgenootskap van vroeër met hulle te hernu. 17Ons het hulle egter beveel om na julle te gaan, julle te groet en ons briewe oor die hernuwing en ons broederskap aan julle te oorhandig. 18Julle sal nou goed doen deur ons hierop te antwoord.”
19En hier volg die afskrif van die briewe wat hulle aan Onias gestuur het:
20“Arius, die koning van die Spartane,
aan die hoëpriester Onias,
Gegroet!
21“Daar is in 'n geskrewe dokument oor die Spartane en die Judeërs vasgestel dat hulle broers is en dat hulle uit die nageslag van Abraham kom. 22Noudat ons dit weet, sal julle goed doen as julle vir ons oor julle welstand skryf. 23Ons skryf terug aan julle dat julle vee en julle besittings aan ons behoort en dat wat aan ons behoort, ook aan julle behoort. Ons gee dus opdrag dat ons gesante aan julle op hierdie wyse verslag doen.”
Verdere veldtogte van Jonatan en Simon
24Jonatan het gehoor dat Demetrius se aanvoerders met 'n groter leërmag as vantevore teruggekeer het om teen hom oorlog te maak. 25Hy het uit Jerusalem vertrek en hulle in die gebied van Amatitis tegemoetgegaan, want hy het nie vir hulle die geleentheid gegee om sy gebied binne te kom nie. 26Hy het spioene na hulle kamp gestuur. Die spioene het teruggekeer en aan hom berig dat Demetrius se leër opgestel is om hulle gedurende die nag te oorval. 27Toe die son sak, het Jonatan sy manne beveel om wakker te bly en hulle wapens byderhand te hou sodat hulle dwarsdeur die nag vir oorlog gereed is, en hy het buiteposte rondom die kamp opgestel. 28Die teenstanders het gehoor dat Jonatan en sy manne gereed is vir oorlog, en hulle het bang geword en vrees het hulle harte gevul, en hulle het vure in hulle kamp aangesteek en hulle het teruggetrek. 29Maar Jonatan en sy manne het dit tot die oggend toe nie gemerk nie, want hulle het die vure sien brand. 30Jonatan het hulle agtervolg, maar hulle nie ingehaal nie, want hulle het die Eleutherusrivier oorgesteek. 31Jonatan het na die Arabiere, dié wat Sabadaers genoem word, afgedraai en hulle verslaan en hulle besittings as oorlogsbuit gevat. 32Hy het kamp opgebreek en na Damaskus gegaan en deur die hele gebied gemarsjeer.
33Simon het vertrek en tot by Askelon en die nabygeleë vestings gemarsjeer. Hy het na Joppe afgedraai en dit ingeneem, 34want hy het gehoor dat hulle die vesting wou oorgee aan Demetrius se manskappe, en hy het daar 'n garnisoen gestasioneer om dit te bewaak.
35Jonatan het teruggekeer en die oudstes van die volk in vergadering geroep. Hy het saam met hulle besluit om vestings in Juda te bou 36en die mure van Jerusalem hoër te maak en 'n hoë muur tussen die vesting en die stad op te rig om dit van die stad af te skei, sodat dit apart kon wees en die vyand nie kon koop of verkoop nie. 37Hulle het bymekaargekom om die stad te herbou, maar 'n deel van die muur aan die oostekant, teen die spruit, het ineengestort, en Jonatan het die deel wat Gafenata genoem word, herstel. 38Simon het Adida in Sjefela gebou, dit versterk en deure en sluitbalke daar geplaas.
Verraad teen Jonatan
39Trifo het beplan om oor Asië koning te word, die kroon op te sit en sy hand teen koning Antiogus te lig. 40Hy was egter bang dat Jonatan dit nie sou toelaat nie en teen hom sou oorlog maak. Daarom het hy aanhou probeer om hom gevange te neem met die doel om hom dood te maak. Hy het toe vertrek en na Bet-San gegaan.
41Jonatan het met veertigduisend manskappe wat vir die gevegslinie uitgesoek was, vertrek om hom te ontmoet en het na Bet-San gegaan. 42Toe Trifo sien dat hy met 'n groot leërmag gekom het, was hy bang om sy hand teen hom te lig. 43Hy het hom eervol ontvang, hom aan al sy vriende voorgestel en vir hom geskenke gegee. Hy het sy vriende en leërmagte beveel om na Jonatan te luister soos hulle na hom sou luister. 44Hy het vir Jonatan gesê: “Waarom het jy hierdie hele volk moeite aangedoen, aangesien daar nie oorlog tussen ons is nie? 45Stuur hulle nou na hulle huise, maar kies vir jou 'n paar manskappe om jou te vergesel. Kom saam met my na Ptolemaïs en ek sal dit, die res van die vestings, die res van die leërmagte en al die amptenare aan jou oorhandig. Dan sal ek omdraai en weggaan, want dit is waarom ek hier is.”
46Jonatan het hom geglo en gemaak soos hy gesê het. Hy het die leërmagte weggestuur en hulle het na die land van Juda vertrek. 47Hy het egter drieduisend manskappe by homself agtergehou van wie hy tweeduisend in Galilea gelaat het, terwyl 'n duisend hom vergesel het. 48Net toe Jonatan Ptolemaïs binnegegaan het, het die Ptolemeërs die poorte gesluit, en hom gevange geneem en almal saam met hom met die swaard doodgemaak. 49Trifo het leërmagte en perderuiters na Galilea en na die Groot Vlakte gestuur om al Jonatan se manskappe dood te maak. 50Maar hulle was onder die indruk dat hy gevange geneem is en dat hy en dié saam met hom, gesterf het. Hulle het mekaar bemoedig en in gelid bly marsjeer, gereed om te veg. 51Toe hulle agtervolgers sien dat hulle bereid was om vir hulle lewe te veg, het hulle teruggedraai. 52Hulle het almal veilig na die land van Juda gegaan. Hulle het oor Jonatan en dié saam met hom getreur, en was ontsettend bang. Die hele Israel het diep gerou. 53Al die heidennasies in die omstreke het probeer om hulle uit te wis, want hulle het gesê: “Hulle het nie 'n aanvoerder en 'n helper nie. Kom ons maak nou oorlog teen hulle en wis die herinnering aan hulle uit onder die mense.”