Verkiesing van Simon as leier
1Simon het gehoor dat Trifo 'n groot leërmag op die been gebring het om die land van Juda binne te val en dit te vernietig. 2Hy het gesien dat die volk bewend van vrees was, en het na Jerusalem opgegaan en die volk byeengeroep. 3Hy het hulle bemoedig en vir hulle gesê: “Julle weet self van alles wat ek en my broers en my vader se huis gedoen het ter wille van die wette en die heiligdom; en van die oorloë en die verdrukkings wat ons gesien het. 4Dit is om hierdie rede dat al my broers vir Israel gesterf het; slegs ek het oorgebly. 5Mag dit tog nie met my gebeur dat ek my lewe behou in enige tyd van verdrukking nie, want ek is nie beter as my broers nie. 6Ek sal eerder my volk, die heiligdom en julle vroue en kinders wreek, want al die heidennasies het bymekaargekom om ons uit haat te vernietig.” 7Die volk se geesdrif het weer opgevlam toe hulle hierdie woorde hoor. 8Hulle het met 'n harde stem geantwoord en gesê: “Jy is ons leier in die plek van Judas en jou broer Jonatan! 9Voer ons oorlog en ons sal alles doen wat jy vir ons sê.” 10Hy het al die krygsmanne bymekaargemaak en hom gehaas om die mure van Jerusalem te voltooi en die stad rondom te versterk. 11Hy het Jonatan, Absalom se seun, en saam met hom 'n aansienlike leërmag, na Joppe gestuur. Jonatan het dié wat in die stad was, uitgedryf en daarin gaan woon.
Dood van Jonatan
12Trifo het van Ptolemaïs af met 'n groot leërmag vertrek om die land van Juda binne te val. Hy het Jonatan onder bewaking saam met hom geneem. 13Simon het in Adida, teenoor die vlakte, kamp opgeslaan. 14Trifo het gehoor dat Simon die plek van sy broer Jonatan ingeneem het en dat hy op die punt was om die stryd met hom aan te knoop. Hy stuur toe gesante na hom om te sê: 15“Vanweë die geld wat jou broer Jonatan vir koninklike belasting skuld as gevolg van die amp wat hy beklee het, hou ons hom gevange. 16Stuur nou honderd talent silwer en twee van sy seuns as gyselaars sodat hy nie teen ons in opstand kom nadat hy vrygelaat is nie, en ons sal hom vrylaat.” 17Alhoewel Simon geweet het dat hulle hom bedrieg, het hy mense gestuur om die geld en die kinders te haal, sodat hy nie die volk baie ongelukkig maak nie 18en hulle sou sê: “Dit is omdat Simon nie die geld en die kinders vir hom gestuur het nie dat Jonatan gesterf het.” 19Hy het die kinders en die honderd talent gestuur, maar Trifo het hulle bedrieg en Jonatan nie vrygelaat nie. 20Hierna het Trifo gekom om die gebied binne te val en dit te vernietig. Hulle het 'n ompad geneem na Adora, maar Simon en sy leërafdeling het op elke plek teen hom opgeruk, waarheen hy ook al gegaan het. 21Dié wat in die vesting was, het aangehou om afgevaardigdes na Trifo te stuur om by hom aan te dring dat hy deur die woestyn na hulle kom en vir hulle voedselvoorraad stuur. 22Trifo het al sy perderuiters gereedgemaak om te vertrek, maar daardie nag was daar besonder baie sneeu, met die gevolg dat hy vanweë die sneeu nie kon vertrek nie. Hy het toe teruggetrek en na Gilead gegaan. 23Toe hy naby Baskama kom, het hy Jonatan doodgemaak, en hy is daar begrawe. 24Trifo het omgedraai en na sy land teruggekeer.
25Simon het mense gestuur, die beendere van sy broer Jonatan geneem en hom in Modeïn, die stad van sy vaders, begrawe, 26en die hele Israel het diep oor hom gerou. Hulle het baie dae lank oor hom gerou. 27Simon het op die graf van sy pa en sy broers 'n monument gebou en dit hoog gemaak vir sigbaarheid, met gepoleerde steen voor en agter. 28Hy het sewe piramides opgerig, die een langs die ander, vir sy vader, moeder en vier broers. 29Hy het vir die piramides oorlogswerktuie gemaak en rondom groot suile geplaas, en hy het op die suile wapenrustings aangebring as 'n ewige gedagtenis, en langs die wapenrustings uitgekerfde skepe, sodat alle seevaarders dit kan sien. 30Hierdie grafmonument, wat hy in Modeïn gebou het, bestaan tot vandag toe.
Vriendskapsverdrag tussen Simon en Demetrius
31Trifo het listig teenoor die jong koning Antiogus opgetree en hom doodgemaak. 32Hy het in sy plek koning geword, die kroon van Asië opgesit en die land 'n swaar slag toegedien. 33Maar Simon het die vestings van Juda opgebou, dit met hoë torings, groot mure, poorte en sluitbalke verskans en kosvoorraad in die vestings geplaas. 34Simon het manne uitgekies en hulle na koning Demetrius gestuur om vrystelling van belasting vir die land te verkry, want al die dade van Trifo het op plundery uitgeloop. 35Koning Demetrius het 'n boodskap na hom gestuur met betrekking tot hierdie woorde van hom; hy het hom geantwoord en vir hom die volgende brief geskryf:
36“Koning Demetrius
aan Simon, die hoëpriester en •Vriend van Konings, aan die oudstes en aan die volk van die Judeërs:
Gegroet!
37“Ons het die goue kroon en die palmtak wat julle gestuur het, ontvang. Ons is gereed om met julle 'n omvangryke vredesooreenkoms aan te gaan en vir die amptenare te skryf om julle van belasting kwyt te skeld. 38Alles wat ons aan julle toegestaan het, staan vas; ook die vestings wat julle gebou het, sal aan julle behoort. 39Ons vergewe die foute en oortredings tot vandag toe en stel julle vry van die kroonbelasting wat julle skuld, en as enigiets anders belas was in Jerusalem, sal dit voortaan nie meer belas word nie. 40As sommige van julle geskik is om by ons ingeskryf te word, laat hulle ingeskryf word, en laat daar vrede tussen ons wees.”
41In die honderd-en-sewentigste jaar is die heidennasies se juk op Israel verwyder, 42en die volk het begin om in dokumente en ooreenkomste te skryf:
“In die eerste jaar van Simon, die groot hoëpriester, aanvoerder en leier van die Judeërs.”
Bevryding van Israel
43In daardie tyd het Simon by Geser kamp opgeslaan en dit met leërafdelings omsingel. Hy het 'n beleëringstoring gemaak, dit na die stad gebring, een van die stad se torings getref en dit ingeneem. 44Die manskappe in die beleëringstoring het uitgespring in die stad in, en daar het 'n groot opskudding ontstaan. 45Die mans in die stad, saam met die vroue en kinders, het teen die muur opgeklim, hulle klere geskeur, hard geskreeu en Simon gesmeek om vir hulle die regterhand te reik. 46Hulle het gesê: “Moet ons nie behandel volgens ons bose dade nie, maar volgens u barmhartigheid!” 47Simon het met hulle 'n ooreenkoms aangegaan en nie met hulle oorlog gemaak nie. Hy het hulle uit die stad verdryf, die huise waarin die afgodsbeelde was, gereinig en toe onder die sing van himnes en lofliedere die stad binnegegaan. 48Hy het elke •onreinheid daaruit verwyder, manne wat die wet moes onderhou, daar laat woon, dit versterk en vir homself daar 'n huis gebou.
49Maar die manskappe in die vesting in Jerusalem is verhinder om na die landelike gebied te gaan en terug te keer om te koop en te verkoop. Hulle het toe verhonger en 'n hele aantal van hulle het van honger omgekom. 50Hulle het na Simon geroep om die regterhand te aanvaar, en hy het sy regterhand vir hulle aangebied. Hy het hulle daarvandaan uitgedryf en die vesting van onreinhede gereinig. 51Op die drie-en-twintigste van die tweede maand van die honderd-een-en-sewentigste jaar het hulle met lofprysing en palmtakke, met liere, simbale en harpe, en met lofgesange en liedere, die vesting binnegegaan, want 'n groot vyand is verpletter en uit Israel verwyder. 52Hy het bepaal dat hulle hierdie dag jaarliks met blydskap vier. Hy het die tempelberg, wat naby die vesting was, versterk en hy en sy manne het daar gewoon. 53Simon het gesien dat sy seun Johannes nou 'n man is en hom as bevelvoerder van al die leërmagte aangestel, en hy het in Geser gewoon.