2Moet jou nie verhef
deur die planne van jou siel nie,
sodat jou lewe nie gegryp word
soos 'n bul gegryp word nie.
3Jy sal jou blare opeet
en jou vrugte verwoes
en jouself as 'n verdroogde boom
agterlaat.
4'n Slegte siel sal sy besitter vernietig
en hom tot 'n bespotting
van sy vyande maak.
5Soet woorde vermeerder vriende
en 'n welsprekende tong
laat hoflikheid toeneem.
6Laat diegene wat met jou
in vrede leef, baie wees,
maar jou raadgewers een uit 'n duisend.
7As jy iemand bevriend,
bevriend hom deur hom te toets
en moet hom nie oorhaastig vertrou nie,
8want daar is 'n vriend
wat net 'n vriend is
wanneer dit hom pas,
maar beslis nie by jou sal staan
op die dag van jou swaarkry nie.
9Ook is daar 'n vriend
wat in 'n vyand sal verander
en tot jou skande van julle
onenigheid sal vertel.
10Ook is daar 'n vriend
wat jou maaltyd met jou deel,
maar beslis nie by jou sal staan
op die dag van jou swaarkry nie.
11Wanneer dit met jou goed gaan,
sal hy soos jy wees en openhartig
met jou huisbediendes praat.
12As jy verneder word,
sal hy teen jou draai
en sal hy hom van jou gesig verberg.
13Bly weg van jou vyande
en wees op jou hoede vir jou vriende.
14'n Betroubare vriend
is 'n stewige beskutting
en wie so iemand gevind het,
het 'n skat gevind.
15'n Betroubare vriend
kan 'n mens vir niks verruil nie,
en geen maatstaf kan sy waarde
meet nie.
16'n Betroubare vriend
is 'n geneesmiddel vir die lewe
en dié wat ontsag het vir die Here,
sal so iemand vind.
17Hy wat ontsag het vir die Here,
sal sy vriendskap goed rig,
want soos hy is, so is sy naaste ook.
Wysheid as dissipline
18Kind, kies opvoeding van jou jeug af,
dan sal jy Wysheid vind
tot in jou gryse ouderdom.
19Soos een wat ploeg en saai,
moet jy na haar kom
en wag op haar goeie vrug,
want deur haar te bewerk,
sal jy weinig moeite hê,
en spoedig sal jy van haar opbrengs eet.
20Soos 'n erg ruwe pad
is sy vir die onopgevoedes
en die mens sonder verstand
sal by haar nie bly nie.
21Sy sal soos 'n swaar toetssteen
op hom rus
en hy sal nie huiwer om haar
af te gooi nie.
22Want Wysheid se naam
spreek vanself,
maar sy is vir baie nie sigbaar nie.
23Luister, kind, wag op my mening
en moenie my raad verwerp nie.
24En plaas jou voete in haar kniehalter
en jou nek in haar strop.
25Buig jou skouers en dra haar
en moenie wrewelrig raak
oor haar boeie nie.
26Kom na haar met jou hele siel
en bewaar haar paaie met al jou krag.
27Speur haar na, soek haar,
en sy sal vir jou bekend word,
en wanneer jy haar in jou greep gekry het,
moet haar nie laat gaan nie,
28want jy sal uiteindelik
rus in haar vind,
en sy sal vir jou in vreugde
verander word.
29Ja, haar kniehalter sal vir jou
'n sterk beskutting wees
en haar strop 'n erekleed,
30want sy dra goue versiersels
en haar boeie is 'n koord
met die kleur van •hiasintsteen.
31Jy sal haar aantrek soos 'n erekleed
en haar dra as 'n kroon van vreugde.
32As jy gewillig is, kind,
sal jy onderrig word
en as jy jou inspan,
sal jy verstandig word.
33As jy graag luister,
sal jy kennis ontvang
en as jy jou oor fyn instel,
sal jy wys word.
34Staan tussen die menigte oudstes,
en wie wys is, skaar jou by hom.
35Luister gretig na elke gesprek oor God
en moenie dat insiggewende
spreuke jou ontglip nie.
36As jy iemand met insig teëkom,
soek hom vroeg op
en laat jou voet sy drumpel deurtrap.
37Dink na oor die opdragte van die Here
en besin voortdurend oor sy gebooie;
Hy sal jou hart versterk
en die begeerte na wysheid
sal vir jou gegee word.