1Moenie kwaad doen nie,
dan sal die kwaad
jou beslis nie oorval nie.
2Draai jou weg van die onreg,
dan sal dit van jou wyk.
3Seun, moenie saai in die vore
van onreg nie,
dan sal jy beslis nie die onreg
sewevoudig oes nie.
4Moenie die Here
vir 'n regeringsamp vra nie;
vra ook die koning
nie om 'n ereplek nie.
5Moet jouself nie voor die Here
regverdig nie
en moet jou nie slim hou
voor die koning nie.
6Moenie daarna streef
om 'n regter te wees nie –
miskien het jy nie die gesag
om onreg uit te roei nie;
moenie met vrees en bewing
staan voor die aangesig
van 'n magtige persoon nie,
dat jy nie 'n struikelblok
voor jou integriteit plaas nie.
7Moenie sondig teen die menigte van die stad,
en jouself onder die massas verneder nie.
8Moenie dieselfde sonde herhaal nie,
want jy sal nie eers vir die eerste keer
onskuldig verklaar word nie.
9Moenie sê,
“Hy sal kyk hoeveel geskenke ek gee,
en wanneer ek dit aan
die Allerhoogste God offer,
sal Hy dit aanvaar,” nie.
10Moenie sonder hoop wees as jy bid nie,
en moenie nalaat om aalmoese
te gee nie.
11Moenie vir iemand lag
wanneer sy siel bitter is nie;
daar is immers net Een
wat verneder en ophef.
12Moenie leuens oor jou broer saai nie;
moet dit ook nie aan 'n vriend doen nie.
13Weier om enige leuen te versprei,
want om daarmee vol te hou,
lei tot niks goeds nie.
14Moenie leë woorde gebruik
in die teenwoordigheid
van die oudstes nie,
en moenie woorde herhaal
wanneer jy bid nie.
15Moenie 'n weersin daarin hê
om hard te werk,
of om die aarde
wat die Allerhoogste
geskep het, te bewerk nie.
16Moet jou nie reken onder
die menigte sondaars nie;
onthou dat die oordeel oor jou
nie sal uitbly nie.
17Verootmoedig jou siel
tot die uiterste toe,
want die straf vir die goddelose
is vuur en wurms.
18Moenie 'n vriend
vir wins verruil nie,
ook nie 'n ware broer
vir die goud van Ofir nie.
19Moenie 'n wyse en goeie vrou
wegwys nie,
want haar goedgunstigheid
is meer werd as goud.
20Moenie 'n huisbediende
wat met integriteit werk,
mishandel nie,
ook nie 'n huurarbeider
wat met hart en siel werk nie.
21Laat jou siel steeds
'n verstandige huisbediende liefhê,
en moet hom nie sy vryheid ontsê nie.
22Het jy vee? Pas hulle op,
en as hulle vir jou voordeel
inhou, behou hulle.
23Het jy kinders?
Voed hulle op,
en maak hulle van jongs af onderdanig.
24Het jy dogters?
Hou 'n wakende oog oor hulle liggame
en moenie 'n opgeruimde gesig
vir hulle wys nie.
25Gee jou dogter in die huwelik uit
en jy sal 'n belangrike taak
uitgevoer het,
maar gee haar aan 'n verstandige man.
26Het jy 'n vrou wat jou sielsgenoot is?
Moenie haar verstoot nie,
maar moet jouself nie toevertrou
aan een van wie jy 'n afkeer het nie.
27Eerbiedig jou vader met jou hele hart
en vergeet ook nie jou moeder
se geboortepyne nie.
28Onthou dat jy uit hulle gebore is
en hoe kan jy hulle vergoed
vir dit wat hulle jou gebied het?
29Toon ontsag vir die Here
met jou hele siel
en respekteer sy priesters.
30Wees met al jou krag lief
vir Hom wat jou geskep het,
en laat sy tempeldienaars
nie in die steek nie.
31Toon ontsag vir die Here
en eerbied vir sy priesters,
en gee aan Hom die deel
soos jy beveel is:
eerstelinge en •hersteloffers
en 'n simboliese offer,
asook •wydingsoffers
en die eerstelinge
van die •gewyde gawes.
32Steek ook jou hand uit na die arme,
sodat jou seën volkome kan wees.
33Wees vrygewig met geskenke
aan almal wat leef;
moet ook nie jou gawes weerhou
van dié wat gesterf het nie.
34Moet jou nie afsydig hou
van dié wat ween nie,
maar rou saam met dié wat treur.
35Moenie huiwerig wees
om siekes te besoek nie,
want op grond van sulke dade
sal jy jou geliefd maak.
36Hou in al jou woorde
jou uiteinde in gedagte,
en jy sal tot in ewigheid nooit sondig nie.