Tobit 9
Ontvangs van geld by Gabael
1Toe het Tobias vir Rafael geroep en vir hom gesê: 2“Asarja, broer, vat vier huisbediendes en twee kamele saam met jou en gaan na Rages. Gaan na Gabael en gee vir hom die bewys. Kry die geld en bring hom saam met jou na die •bruilofsfees. 3-4Jy besef dat my vader die dae sal aftel. As ek net een dag laat is, sal ek hom baie ontstel. Jy weet wat Raguel gesweer het en ek kan nie sy eed verontagsaam nie.” 5Rafael en die vier huisbediendes en twee kamele reis toe na Rages in Medië. Hulle het die nag by Gabael oorgebly. Rafael het sy bewys vir hom gegee en hom vertel van Tobias, seun van Tobit, dat hy vir hom 'n vrou geneem het en dat hy hom uitnooi na die bruilofsfees. Gabael het dadelik opgestaan. Hy het die sakke geld vir Rafael uitgetel, met hulle seëls nog heel, en hulle het dit bymekaargepak. 6Hulle het almal vroeg opgestaan en na die bruilofsfees vertrek. Toe hulle by Raguel se huis aankom, het hulle Tobias aan tafel gekry. Hy het opgespring en Gabael gegroet, wat hom onder trane geseën en vir hom gesê het: “Edele en goeie man, seun van 'n edele en goeie, regverdige en vrygewige man. Mag die Here vir jou hemelse seëninge gee – ook vir jou vrou, jou vader en jou vrou se moeder. God is lofwaardig omdat ek my neef Tobit gesien het. Jy lyk feitlik presies soos hy.”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.