1En verder, as iemand dalk
'n seereis wil onderneem
en beplan om op woeste golwe te vaar,
roep hy 'n stuk hout aan
wat breekbaarder is
as die skip wat hom vervoer.
2Want begeerte na wins
het die skip ontwerp,
en wysheid was die vakman
wat dit voorberei het.
3Maar u voorsienigheid,
Vader, is die loods,
omdat U ook die weg oor die see
en 'n veilige koers deur die golwe baan,
4en daardeur wys dat U by magte is
om uit elke gevaar te red,
sodat selfs iemand
sonder vaardigheid
ter see kan gaan.
5Dit is u wil dat die werke
van u wysheid nie onbenut
moet bly nie;
daarom vertrou mense
hulle lewens toe aan selfs
'n nietige stukkie hout,
en nadat hulle die stormwaters
deurvaar het,
kom hulle op 'n vlot behoue
daarvan af.
6Want ook aan die begin,
toe die hooghartige reuse
omgekom het,
het die hoop van die wêreld
haar toevlug geneem
tot 'n vlot wat deur u hand geloods is,
en die kiem van 'n nuwe geslag
aan die wêreld nagelaat.
7Want geseënd is die houtvaartuig
waardeur geregtigheid kom.
8Vervloek, egter, is daardie
handgemaakte ding
asook hy wat dit gemaak het –
hy, omdat hy dit gemaak het,
en die verganklike ding
omdat dit “god” genoem word.
9Want vir God is albei ewe haatlik:
die goddelose en sy goddeloosheid;
10want die maaksel sal saam
met die maker gestraf word.
11Daarom sal met die afgode
van die heidennasies
afgereken word,
omdat hulle in God se skepping
'n gruwel geword het,
'n struikelblok vir die siel van mense
en 'n valstrik vir die voete van dwase.
12Want die ontwerp van afgode
is die begin van hoerery,
en die uitdink daarvan
die verwoesting van lewe.
13Want hulle het nie
aan die begin bestaan nie,
en sal ook nie vir altyd bestaan nie.
14Hulle het immers
deur die ydelheid van mense
die wêreld ingekom,
en daarom is 'n spoedige einde
vir hulle beplan.
15'n Vader, gekwel
deur die ontydige smart
van 'n kind wat hom
skielik ontneem is,
het 'n afbeelding van hom gemaak,
die eens dooie mens
nou as god vereer,
en geheime rituele
en seremonies vir sy
ondergeskiktes ingestel.
16Toe, met die verloop van tyd,
is dié goddelose gebruik
gevestig en as wet nagekom.
17En op bevel van heersers
is die gesnede beelde vereer.
Toe mense hulle nie in persoon
kon vereer nie omdat hulle
te ver weg gewoon het,
het hulle in hulle denke 'n beeld
van die veraf gestaltes gevorm,
en toe 'n sigbare afbeelding
gemaak van die vereerde koning,
sodat hulle deur hulle ywer
die afwesige kon vlei
asof hy teenwoordig is.
18Ook die ambisie van die kunstenaar
het gedien tot aansporing
van hulle wat die koning
nie geken het nie,
om die kultus te versprei,
19want hy het, waarskynlik
om die heerser te behaag,
sy kunstigheid ingespan
om die beeld
tot 'n geïdealiseerde
gelykenis af te werk.
20Want die gewone mense het,
meegesleur deur die bekoring van die werk,
die persoon wat kort tevore
as mens vereer is,
nou as voorwerp
van aanbidding begin beskou.
21En juis dit het 'n lokval
in hulle lewe geword,
omdat mense, verkneg
deur die noodlot en tirannie,
aan klippe en houtstukke
die Naam gegee het
wat met niemand
gedeel mag word nie.
22Asof hulle dwaling
ten opsigte van hulle kennis
van God nie genoeg was nie,
het hulle, terwyl hulle weens
onkunde te midde van
'n groot stryd geleef het,
sulke bose dade vrede genoem.
23Want hulle neem deel
aan mistieke rituele
waartydens kinders gedood word,
óf geheime seremonies,
óf waansinnige brasserye
ooreenkomstig volksvreemde gebruike,
24en handhaaf so
nóg 'n rein leefwyse,
nóg 'n rein huwelik;
die een bring die ander
óf op verraderlike wyse om die lewe
óf berokken hom smart deur egbreuk te pleeg.
25Maar alles is 'n deurmekaarspul
van bloed en moord,
diefstal en bedrog,
korrupsie, ontrou,
oproerigheid, meineed,
26onrus onder goeie mense,
ondankbaarheid,
die besmetting van siele,
omkering van geslagsaard,
ontwrigting in die huwelik,
egbreuk en losbandigheid.
27Die aanbidding van roemlose
afgode is immers die begin,
die oorsaak en die einde
van alle kwaad.
28Want in hulle uitbundigheid
gaan mense waansinnig te kere,
óf hulle profeteer vals,
óf hulle leef in onreg,
óf hulle pleeg geredelik meineed.
29Hulle stel immers hulle
vertroue op lewelose afgode,
en verwag nie dat hulle
skade sal ly omdat hulle
vals gesweer het nie.
30Want om twee redes sal
'n regverdige oordeel hulle inhaal:
omdat hulle slegte gedagtes
oor God gekoester het
deur hulle toe te wy aan afgode,
en omdat hulle listig vals gesweer het
deur wat heilig is, te verag.
31Dit is nie die mag van die gode
waarby hulle sweer nie,
maar die wraak
oor dié wat sondig
wat steeds die straf is vir die
onregverdige se oortredings.