Salomo se wysheid
1Salomo het die skoonseun van die farao, die koning van Egipte, geword. Hy het die dogter van die farao as vrou geneem. Hy het haar na die Stad van Dawid gebring, totdat hy klaar was met die bou van sy paleis en die huis van die Here, en met die muur rondom Jerusalem.
2Die volk het nog steeds net op die offerhoogtes geoffer, omdat 'n huis vir die Naam van die Here tot in daardie tyd nog nie gebou was nie. 3Salomo het sy liefde vir die Here getoon deur die vaste voorskrifte van Dawid, sy vader, te volg, behalwe dat ook hy nog steeds op die offerhoogtes geoffer en wierook gebrand het.
4Salomo gaan toe na Gibeon om daar te offer, want dit was die belangrikste offerhoogte. 'n Duisend •brandoffers het Salomo op daardie altaar geoffer.
5By Gibeon het die Here in die nag in 'n droom aan Salomo verskyn. God het gesê: “Vra wat Ek vir jou moet gee.” 6Salomo het gesê: “U self het aan u dienskneg, my vader Dawid, oorvloedige troue liefde bewys, omdat hy voor U geleef het in waarheid en geregtigheid, en ook met opregtheid van hart teenoor U. U het hierdie oorvloedige troue liefde teenoor hom volgehou en aan hom 'n seun gegee wat op sy troon sit, soos dit vandag is. 7En nou, Here my God, dit is U wat u dienskneg koning gemaak het in die plek van my vader Dawid. Maar ek is 'n jong seun, ek weet nie hoe om uit te gaan of in te kom nie. 8U dienskneg bevind hom onder u volk wat U gekies het, 'n groot volk wat vanweë sy grootte nie bereken of getel kan word nie. 9Gee dan aan u dienskneg 'n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad; want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?”
10Dit was goed in die oë van die Heer dat Salomo juis dit gevra het. 11God het vir hom gesê: “Omdat jy hierdie versoek gerig het en nie vir jouself 'n lang lewe gevra het, nie vir jouself rykdom gevra het, en nie die lewens van jou vyande gevra het nie, maar vir jouself onderskeidingsvermoë gevra het om regsake aan te hoor – 12kyk, Ek voldoen aan jou versoek: Ja, Ek gee aan jou 'n wyse en verstandige hart, sodat daar voor jou niemand was soos jy nie, en ná jou niemand soos jy sal opstaan nie. 13Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: sowel rykdom as eer, sodat, solank jy leef, daar onder die konings niemand soos jy sal wees nie. 14As jy my paaie volg soos jou vader Dawid, deur my vaste voorskrifte en gebooie na te kom, sal Ek aan jou 'n lang lewe gee.” 15Salomo word toe wakker, en sowaar, dit was 'n droom!
Hy het in Jerusalem aangekom en voor die verbondsark van die Heer gaan staan. Hy het brandoffers gebring en •maaltydoffers geoffer en 'n feesmaal gehou vir al sy amptenare.
16Daarna het twee vroue wat prostitute was, na die koning gekom en voor hom gaan staan. 17Die een vrou het gesê: “Asseblief, my heer! Ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis. Ek het by haar in die huis geboorte geskenk. 18Op die derde dag nadat ek geboorte geskenk het, het ook hierdie vrou geboorte geskenk. Ons was saam; daar was geen buitestander by ons in die huis nie, net die twee van ons was in die huis. 19Die seuntjie van hierdie vrou is in die nag dood, want sy het op hom gelê. 20Maar in die middel van die nag het sy opgestaan en my seuntjie langs my gevat terwyl u dienares geslaap het. Sy het hom teen haar bors neergelê, en haar dooie seuntjie het sy teen my bors neergelê. 21Toe ek die oggend opstaan om my seuntjie te voed, toe is hy dood! Maar toe ek hom die oggend goed bekyk, sowaar, toe is dit nie my seuntjie wat ek in die wêreld gebring het nie!” 22Die ander vrou sê toe: “Nee! My seuntjie is die lewende een! Jou seuntjie is die dooie een!” Die eerste vrou het egter volgehou: “Nee! Jou seuntjie is die dooie een! My seuntjie is die lewende een!” So het hulle voor die koning gestry.
23Die koning het gesê: “Hierdie een hou vol, ‘Dit is my seun, die lewende een, en jou seun is die dooie een.’ En daardie een hou vol, ‘Nee! Jou seun is die dooie een, en my seun die lewende.’ ” 24Toe sê die koning: “Bring vir my 'n swaard.” Hulle bring toe die swaard voor die koning. 25Daarna sê die koning: “Sny die lewende kind in twee, en gee die een helfte vir die een vrou en die ander helfte vir die ander vrou.” 26Maar die vrou wie se kind die lewende een was, praat toe met die koning omdat haar deernis vir haar seuntjie haar oorweldig het. Sy het vir die koning gesê: “Asseblief, my heer! Gee liewer die lewende kindjie vir haar – moet hom net nie doodmaak nie.” Maar die ander vrou het volgehou: “Hy sal nie myne nie, maar ook nie joune wees nie. Sny deur!” 27Daarop het die koning gereageer deur te sê: “Gee vir die eerste vrou die lewende kindjie. Moet hom glad nie doodmaak nie! Sy is sy ma.”
28Toe die hele Israel hoor van die beslissing wat die koning gelewer het, het hulle vir die koning ontsag gehad, want hulle het gesien dat die wysheid van God in hom was om die reg te handhaaf.