1Toe sê Judit vir hulle: “Luister na my, broers, vat hierdie kop en hang dit bo aan die borswering van julle stadsmuur. 2Dan, sodra die dag breek en die son oor die aarde opkom, moet elkeen sy gevegsuitrusting neem en elke weerbare man moet uit die stad uitgaan; julle moet 'n aanvoerder oor hulle aanstel, asof julle gaan aftrek na die vlakte, na die buitepos van die Assiriërs, maar moenie werklik afgaan nie. 3Dan sal hulle hulle wapenrusting gryp, na hulle kamp hardloop en die aanvoerders van die Assiriese leërmag wakker maak. Hulle sal na Holofernes se tent storm, maar hom nie kry nie; paniek sal hulle oorval en hulle sal van julle af wegvlug. 4Julle en al die inwoners van elke streek in Israel moet hulle agtervolg en hulle op hulle paaie neervel. 5Maar voordat julle dit doen, laat kom Agior die Ammoniet na my sodat hy die man wat die huis van Israel verag het, kan sien en uitken – die man wat hom na ons gestuur het asof na sy dood.” 6Hulle het toe vir Agior van Ussia se huis af ontbied. Toe hy kom en die kop van Holofernes sien in die hande van een van die mans in die byeenkoms van die volk, het hy gesig eerste flou op die grond neergeslaan. 7Toe hulle hom ophelp, het hy by Judit se voete neergeval en aan haar hulde gebring en gesê: “Geseënd is jy in al die tente van Juda; in elke nasie sal diegene wat jou naam hoor, sidder. 8Vertel tog nou vir my wat jy in hierdie dae gedoen het.” Toe het Judit hom in die teenwoordigheid van die volk vertel van alles wat sy gedoen het – vanaf die dag waarop sy uitgegaan het tot op die dag waarop sy met hulle begin praat het. 9Toe sy klaar gepraat het, het die volk met 'n harde stem geskreeu en van vreugde uitgeroep in hulle stad. 10Toe Agior alles sien wat die God van Israel gedoen het, het hy vas in God geglo. Hy, as onbesnedene, het hom laat besny en is opgeneem in die huis van Israel, tot op hierdie dag. 11Vroegoggend, net na dagbreek, het hulle die kop van Holofernes aan die stadsmuur gehang. Daarna het elke manskap sy wapens geneem en hulle het in hulle kohorte soldate uitgegaan na die bergpasse. 12Toe die Assiriërs hulle sien, het hulle 'n boodskap na hulle leiers gestuur, wat toe na die generaals en die afdelingshoofde en na elkeen van hulle offisiere gegaan het. 13Hulle het by Holofernes se tent gekom en vir die een in beheer van al sy persoonlike sake gesê: “Maak gou ons heer wakker, want die slawe het dit gewaag om af te kom teen ons vir 'n geveg, tot hulle finale verdelging.” 14Bagoas het ingegaan en by die ingang van die tent geklop, want hy het gedink dat hy saam met Judit slaap. 15Toe niemand antwoord nie, het hy die tentklap oopgemaak, die slaapvertrek binnegegaan en Holofernes uitgestrek op die vloer gekry: dood – en sy kop was van sy lyf af. 16Hy het met 'n harde stem geskreeu, met 'n gehuil en 'n gekreun en 'n luide gekerm, en sy klere geskeur. 17Toe het hy by die tent waar Judit gebly het, ingegaan. Toe hy haar nie kry nie, het hy uitgestorm na die mense en geskreeu: 18“Die slawe het verraad gepleeg! Een Hebreeuse vrou het skande gebring oor die huis van koning Nebukadnesar! Want kyk, Holofernes lê op die grond en sy kop is nie aan sy lyf nie!” 19Toe die aanvoerders van die Assiriese leërmag hierdie woorde hoor, het hulle hulle onderklede geskeur; hulle was hewig ontsteld en hulle wilde krete en baie harde geskreeu het dwarsdeur die kamp opgeklink.