1As jy goed doen, moet jy weet
aan wie jy dit moet doen,
en daar sal dankbaarheid wees
vir jou goeie dade.
2Doen goed aan 'n godvresende
mens en jy sal beloning vind;
indien nie deur homself nie,
dan deur die Allerhoogste.
3Daar is geen voorspoed
vir hom wat aanhou
om kwaad te doen nie,
ook nie vir hom wat nie
vrywillig aalmoese gee nie.
4Gee aan 'n godvresende mens,
maar moenie 'n sondaar bystaan nie.
5Doen goed aan 'n nederige mens,
maar moenie aan 'n goddelose gee nie.
Weerhou sy brood
en moenie vir hom gee nie,
sodat hy nie daardeur
die oorhand oor jou kry nie,
want jy sal dubbel soveel
slegte dinge ervaar
as al die goeie dinge
wat jy aan hom doen.
6Want ook die Allerhoogste haat sondaars
en die goddeloses sal Hy straf.
7Gee aan 'n goeie mens,
maar moenie 'n sondaar bystaan nie.
8'n Vriend sal nie in voorspoed
gestraf word nie,
en in teenspoed sal die vyand
nie verborge bly nie.
9In 'n mens se voorspoed
voel sy vyande gegrief,
en in sy teenspoed sal selfs
sy vriende van hom weggaan.
10Moet jou vyand tot in
ewigheid nie vertrou nie,
want net soos koper aanslaan,
so ook die vyand se boosheid.
11Selfs as hy verneder word en krom loop,
neem jou siel in ag
en wees versigtig vir die vyand.
En jy sal vir hom wees soos
iemand wat 'n spieël skoonmaak,
en jy sal weet dat die spieël
nie heeltemal verdof het nie.
12Moet hom nie langs jou laat staan nie,
sodat hy nie, wanneer hy jou opsy geskuif het,
jou plek inneem nie;
moet hom nie aan jou regterhand laat sit nie,
sodat hy nie jou sitplek begeer,
en jy uiteindelik my woorde verstaan
en as gevolg van my woorde
seergemaak word nie.
13Wie sal simpatie hê
vir 'n slangbesweerder
wat gepik word,
of vir hulle wat dit naby aan
wilde diere waag?
14So gaan dit met iemand
wat hom tot 'n sondaar wend
en by sy sonde betrokke raak.
15Vir 'n kort rukkie sal hy by jou vertoef,
maar as jy terugdraai,
sal hy beslis nie langer by jou bly nie.
16Met sy lippe sal die vyand
soet woorde sê,
maar in sy hart sal hy planne beraam
om jou in 'n put te gooi.
Met sy oë sal die vyand trane stort,
maar as hy die geleentheid kry,
sal hy selfs nie deur jou bloed versadig word nie.
17As teenspoed jou tref,
sal jy vind dat hy voor jou daar is,
en hy sal maak of hy wil help,
maar hy sal jou pootjie.
18Hy sal sy kop skud
en sy hande saamslaan,
en baie woorde fluister
en sy ware kleure wys.