1Die wysheid van die nederige
sal hom sy kop laat optel
en hom laat plaasneem
onder die maghebbers.
2Moenie iemand aanprys
oor sy skoonheid nie,
en moenie 'n mens minag
oor sy voorkoms nie.
3Die by is die kleinste
onder dié wat vlerke het,
maar sy produk is die bron
van soetigheid.
4Moenie spog oor hoe jy aantrek nie,
en moenie verwaand wees
op jou dag van glorie nie.
Want wonderbaarlik
is die werke van die Here,
ja, duister is sy werke vir mense.
5Baie alleenheersers moes al
op die grond gaan sit,
maar iemand van wie dit nie
verwag is nie,
het 'n kroon gedra.
6Baie maghebbers is al
heeltemal hulle eer ontneem
en geëerdes is oorgelewer
in die hande van ander.
7Moenie foutvind voordat jy self
ondersoek ingestel het nie;
begryp eers waaroor dit gaan
en kritiseer daarna.
8Moenie antwoord voordat
jy geluister het nie,
en moenie iemand onderbreek
in die middel van sy betoog nie.
9Moenie stry oor 'n saak
wat jou nie tot nut is nie,
en moenie deel word van die
dispute van sondaars nie.
10Kind, moenie by baie kwessies
betrokke raak nie;
as jy toenemend daarmee besig is,
sal jy nie onskuldig wees nie,
en as jy dit najaag, sal jy dit
beslis nie in die hande kry nie;
ook sal jy dit glad nie ontvlug
deur daarvan weg te hardloop nie.
11Daar is mense wat hard werk
en swoeg en hulle haas,
maar al hoe meer gebrek ly.
12Iemand anders weer is traag,
afhanklik van hulp,
sonder dryfkrag en brandarm;
tog kyk die Here gunstig na hom
en hef Hy hom op uit sy toestand van vernedering.
13En die Here tel so iemand se kop op
en baie mense staan verwonderd oor hom.
14Goed en kwaad,
lewe en dood,
armoede en rykdom,
kom van die Here af.
17Die Here se gawe
aan die vromes is blywend
en sy guns sal vir altyd voorspoed bring.
18Iemand kan ryk word
op grond van nougesetheid
en gierigheid,
en dit is deel van sy beloning
19wanneer hy sê,
“Ek het rus gevind,
nou gaan ek van my winste geniet;”
hy weet egter ook nie wanneer
die tyd sal aanbreek
dat hy alles aan ander
moet nalaat en sterf nie.
20Staan by jou ooreenkoms,
gee aandag daaraan,
en hou in jou ouderdom aan
om jou werk te doen.
21Moet jou nie verbaas
oor die dade van 'n sondaar nie,
maar vertrou die Here
en hou aan met jou harde werk.
Want dit is maklik in die oë van die Here
om 'n arm mens vinnig
en onverwags ryk te maak.
22Die Here se seën is die beloning van die vrome
en in 'n oogwink laat Hy
sy seën opbloei.
23Moenie sê,
“Wat het ek verder nodig
en watter verdere voordeel
sal daar vir my van nou af wees?” nie.
24Moenie sê,
“Ek het genoeg
en watter skade kan my
van nou af aangedoen word?” nie.
25In tye van voorspoed
is teenspoed vergete,
en in tye van teenspoed
word voorspoed nie onthou nie.
26Want dit is maklik vir die Here
om op die dag dat iemand sterf,
hom te vergeld in ooreenstemming met sy optrede.
27'n Uur se ellende laat 'n mens
vergeet van goeie tye,
en aan die einde van 'n mens se lewe
sal sy dade geopenbaar word.
28Moenie iemand gelukkig
noem voor sy dood nie;
aan sy kinders sal 'n mens geken word.
29Moet geen mens in jou huis
toelaat nie,
want talryk is die lokvalle
van die bedrieër.
30Soos 'n lokpatrys in 'n hok,
so is die hart van 'n verwaande mens
en soos 'n spioen is hy ingestel
op jou val.
31Want hy lê en loer om goed
in kwaad te verander,
en op goeie eienskappe werp hy blaam.
32Met 'n vonk van vuur word
kole aan die brand gesteek;
só is die sondige mens
op die uitkyk om bloed te vergiet.
33Pasop vir hom wat kwaad bedink,
want hy beplan wat sleg is,
sodat hy nie vir altyd skande
oor jou bring nie.
34Huisves 'n vreemdeling,
en hy sal jou verstrengel in probleme
en jou vervreem van jou eie familie.