1Daar is 'n teregwysing
wat nie tydig is nie;
ook is daar iemand wat stilbly,
en hy is verstandig.
2Hoe mooi is dit om te berispe
eerder as om kwaad te wees.
3En hy wat vryelik bely,
sal gevrywaar word van verliese.
4Soos 'n eunug se begeerte
om 'n jong meisie te verkrag,
so is iemand wat beslissings
met geweld afdwing.
5Daar is 'n persoon wat,
omdat hy stilbly,
as wys beskou word;
daarenteen is daar 'n persoon
wat gehaat word
omdat hy baie praat.
6Daar is 'n persoon wat stilbly
omdat hy inderdaad
geen antwoord het nie,
maar daar is 'n persoon wat stilbly
omdat hy die gepaste tyd ken.
7'n Wyse mens sal stilbly
tot die gepaste tyd,
maar die verwaande en dwase
ignoreer die gepaste tyd.
8Hy wat te veel praat,
sal verag word
en hy wat op sy regte aandring,
sal gehaat word.
9In teenspoed is sukses
vir 'n man moontlik,
maar 'n bietjie geluk
kan tot verlies lei.
10Daar is 'n gawe wat jou
nie sal bevoordeel nie
en 'n gawe waarvan
die beloning dubbel is.
11Daar is verlies ter wille van aansien,
en daar is 'n persoon wat uit
sy geringe status sy kop kan optel.
12Daar is 'n persoon
wat baie koop vir min
en hy betaal sewe maal daarvoor.
13Wie wys is met woorde
sal hom daardeur geliefd maak,
maar die gunste van dwases
sal verlore gaan.
14Die geskenk van 'n dwaas
sal jou nie bevoordeel nie,
want hy het baie oë
in plaas van een.
15Hy sal min gee
en baie keer verwyt,
en hy sal sy mond oopmaak
soos 'n herout;
vandag sal hy geld uitleen
en môre terugeis –
so 'n mens is haatlik.
16'n Dwaas sal sê:
“Ek het nie 'n vriend nie
en daar is geen dank
vir my goeie dade nie.”
17Diegene wat sy brood eet,
is boos van tong,
en hoe gereeld en deur hoeveel
sal hy nie bespot word nie?
18Om te gly op die grond
is beter as om te gly met die tong;
so sal die val van bose mense
skielik gebeur.
19'n Onwaardige persoon
is soos 'n ontydige storie –
in die mond van ongeletterdes
sal dit bly vassteek.
20'n Gesegde uit die mond
van 'n dwaas sal afgekeur word,
want hy het dit nie
op die gepaste tyd uitgespreek nie.
21Daar is 'n mens wat deur tekort
verhinder word om te sondig,
en in sy rus sal hy nie gekwel word nie.
22Daar is 'n mens wat sy lewe
vernietig deur skande,
en hy sal dit verwoes
vanweë sy dwaasheid.
23Daar is 'n mens wat 'n guns
aan 'n vriend belowe uit skaamte,
en hy maak hom onnodig tot 'n vyand.
24'n Leuen is 'n bose smet
op 'n mens;
dit sal bly voortbestaan
in die mond van onopgevoedes.
25'n Dief is verkieslik bo
iemand wat volhard met 'n leuen,
maar beide sal verwoesting erf.
26Die karakter van 'n leuenagtige
mens is een van oneer,
en sy skande bly voortdurend by hom.
27Wie wys is met woorde
sal homself bevorder,
en 'n verstandige mens
sal magtiges tevrede stel.
28Hy wat die grond bewerk,
sal sy opbrengs opstapel,
en hy wat magtiges tevrede stel,
sal ongeregtigheid versoen.
29Geskenke uit gasvryheid
en presente verblind die oë
van wyses,
en soos 'n muilband aan 'n bek,
wend dit vermanings af.
30Verborge wysheid
en onsigbare skatte –
watter voordeel is daar in enigeen?
31'n Mens wat sy dwaasheid verberg,
is beter as 'n mens
wat sy wysheid verberg.