1U onverganklike gees
is immers in almal.
2Daarom tugtig U hulle
wat oortree bietjie vir bietjie
en vermaan U hulle deur hulle
te herinner aan hulle sondes,
sodat hulle, bevry van die kwaad,
in U kan glo, Here.
3Want U het hulle wat lank gelede
u heilige land bewoon het,
4gehaat oor hulle
gruwelike praktyke –
hulle towerkunste
en onheilige rituele,
5hulle meedoënlose
doodmaak van kinders,
ook hulle offermaaltye
van mensvleis en mensebloed;
en omdat hulle ingewydes
van 'n geheime kultus was,
6en ouers wat hulle
hulpelose kinders vermoor het.
Daarom het U besluit
om hulle uit te delg
deur die hand van ons vaders,
7sodat die land,
wat vir U die kosbaarste
van alle lande was,
'n waardige nedersetting vir God se kinders kon wees.
8Maar ook hierdie ouers
het U gespaar
omdat hulle mense was,
en U het perdebye as
voorlopers van u strydmag
gestuur om hulle bietjie
vir bietjie uit te roei.
9U was inderdaad nie onmagtig
om die goddeloses in een veldslag
aan die regverdiges te onderwerp,
of hulle deur vreesaanjaende diere,
of met 'n onverbiddelike woord
binne 'n oomblik uit te wis nie;
10maar deur hulle bietjie
vir bietjie te oordeel,
het U hulle ruimte gegee
vir berou,
alhoewel U geweet het
dat hulle van verdorwe afkoms was,
dat die boosheid
iets aangebore by hulle was
en dat hulle denkwyse tot in ewigheid
nooit sou verander nie.
11Hulle geslag was immers
van die begin af vervloek;
ook het U sonder vrees vir enigiemand
hulle van hulle sondes vrygeskeld.
12Want wie durf sê:
“Wat het U gedoen?”
Of wie sal u oordeel teenstaan?
En wie sal U aankla omdat
nasies wat U gemaak het,
verlore gegaan het?
Of wie sal teen U in 'n hofsaak
optree as pleitbesorger
vir die onregverdiges?
13Daar is immers geen ander
god behalwe U nie;
U gee om vir almal,
sodat U kan bewys
dat U nie onregverdig
geoordeel het nie.
14Geen koning of enige heerser
sal U kan konfronteer
ter verdediging van hulle
wat U gestraf het nie.
15Want U is regverdig
en beheer alle dinge regverdig,
terwyl U dit nie beskou
as eie aan u mag
om 'n persoon te veroordeel
wat nie gestraf behoort te word nie.
16Want u krag is die bron
van geregtigheid,
en omdat U oor alle mense
heers, kan U almal spaar.
17Want U toon u krag
wanneer iemand twyfel
aan u volkome mag,
en U straf die oormoed
van hulle wat u mag wel ken.
18Maar U wat beskik oor krag,
U oordeel met sagtheid
en regeer oor ons met groot
verdraagsaamheid,
want U beskik oor die vermoë
om enigiets te doen
wanneer U so wil.
19Deur sulke dade het U u volk
geleer dat die regverdige
ook mensliewend moet wees,
en het U u kinders met hoop vervul
omdat U aan hulle berou
skenk vir hulle sondes.
20Want as U u kinders se vyande,
wat die dood verdien,
met soveel sorg
en toegeeflikheid gestraf het
deur hulle tyd en ruimte
te gun om van hulle kwaad
ontslae te raak –
21met hoeveel nougesetheid
het U nie u kinders geoordeel
aan wie se vaders U ede
en verbonde met beloftes
van seëninge gegee het nie?
22U tugtig ons dus,
maar kasty ons vyande
tienduisend keer meer,
sodat ons, wanneer ons oordeel,
u goedheid ter harte kan neem,
en wanneer ons geoordeel word,
ontferming kan verwag.
23Daarom het U hulle
wat 'n dwase en verkeerde
leefwyse gevoer het,
deur hulle eie gruwels gekasty.
24Hulle het immers verder
op dwaalweë weggedwaal
omdat hulle die mees
veragtelike en afskuwelike
onder die diere as gode
aanvaar het;
hulle is mislei soos dwase kinders.
25Daarom het U oor hulle,
soos oor onverstandige kinders,
die oordeel laat neerkom
tot hulle bespotting.
26Maar hulle wat hulle nie
deur spottende berisping
laat teregwys het nie,
sal die verdiende oordeel
van God ervaar.
27Want hulle was verontwaardig
oor die wesens
waaronder hulle gely het.
Omdat hulle gestraf is
deur juis die diere
wat hulle as gode beskou het,
het hulle Hom, vir wie hulle
so lank geweier het om te ken,
gesien, en begryp:
Hy is die ware God –
en daarom het die allerswaarste
straf hulle vroeër getref.