God laat Dawid nie toe om 'n tempel te bou nie. Sy huis sal ewig regeer.
1EN toe Dawid in sy huis gewoon het, sê Dawid aan die profeet Natan: Kyk, ék woon in 'n huis van sederhout, maar die verbondsark van die Here onder tentdoeke.
2Toe sê Natan vir Dawid: Doen alles wat in u hart is, want God is met u.
3Maar in dieselfde nag kom die woord van God tot Natan en sê:
4Gaan sê vir Dawid, my kneg: So spreek die Here: Jý mag nie vir My die huis bou om in te woon nie.
5Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek Israel laat optrek het tot vandag toe nie, maar Ek het gekom van tent tot tent, en van tabernakel tot tabernakel.
6Oral waar Ek rondgetrek het onder die hele Israel, het Ek ooit 'n woord gespreek met een van die Rigters van Israel wat Ek aangestel het om my volk op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My 'n huis van sederhout nie?
7So moet jy dan nou aan my kneg Dawid sê: So spreek die Here van die leërskare: Ek self het jou geneem uit die weiveld, agter die skape weg, om 'n vors te wees oor my volk Israel.
8En Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande uitgeroei voor jou uit; en Ek sal vir jou 'n naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is;
9en Ek sal vir my volk Israel 'n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer mishandel soos vroeër nie,
10naamlik van die dae af dat Ek Rigters oor my volk Israel aangestel het; en Ek sal al jou vyande verneder. Daarom gee ek jou te kenne dat die Here vir jou 'n huis sal stig.
11En as jou dae vol is om heen te gaan saam met jou vaders, sal Ek jou nakomeling wat uit jou seuns sal wees, laat optree en sy koningskap bevestig.
12Hý sal vir My 'n huis bou, en Ek sal sy troon bevestig tot in ewigheid.
13Ék sal vir hom 'n vader wees, en hý sal vir My 'n seun wees, en my goedertierenheid sal Ek van hom nie laat wyk soos Ek dit onttrek het aan hom wat voor jou gewees het nie.
14Maar Ek sal hom laat bestaan in my huis en in my koninkryk tot in ewigheid, en sy troon sal vas staan tot in ewigheid.
15Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met Dawid gespreek.
16Toe het koning Dawid heengegaan en voor die aangesig van die Here gebly en gesê: Wie is ek, Here God, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?
17En dit was nog te gering in u oë, o God, sodat U aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek en my vorentoe as 'n reeks van mense gesien het, Here God!
18Wat kan Dawid daar nog vir U byvoeg met die oog op die eer wat u kneg aangedoen is; en Ú ken u kneg.
19Here, ter wille van u kneg en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen om al hierdie groot dinge bekend te maak.
20Here, daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.
21En wie is soos u volk Israel, 'n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as 'n volk gaan verlos het, om vir U 'n naam te maak deur groot en vreeslike dinge, deur voor u volk uit, wat U uit Egipte verlos het, nasies te verdrywe.
22En U het u volk Israel vir U as 'n volk tot in ewigheid gemaak; en U, Here, U het vir hulle 'n God geword.
23Laat dan nou, Here, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, tot in ewigheid waar gemaak word, en doen soos U gespreek het.
24Ja, laat dit waar gemaak word en laat u Naam groot word tot in ewigheid, deurdat hulle sê: Die Here van die leërskare, die God van Israel, is Israel se God, en die huis van u kneg Dawid is bestendig voor u aangesig.
25Want U, my God, het die oor van u kneg geopen, dat U vir hom 'n huis sal stig; daarom het u kneg vrymoedigheid gevind om voor u aangesig te bid.
26En nou, Here, U is God, en U het hierdie goeie saak oor u kneg gespreek.
27Dit het U dan nou behaag om die huis van u kneg te seën om vir ewig voor u aangesig te wees; want U, Here, het geseën, en dit sal vir ewig geseënd wees.