Wette oor die sabbatjaar en die jubeljaar.
1VERDER het die Here met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:
2Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land 'n sabbat hou vir die Here.
3Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;
4maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, 'n sabbat vir die Here; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.
5Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet 'n jaar van rus vir die land wees.
6En die opbrings van die sabbat van die land sal julle voedsel wees; vir jou en jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en jou bywoner wat by jou vertoef,
7en vir jou vee en die wild wat in jou land is, sal die hele opbrings daarvan wees om te eet.
8Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou negen-en-veertig jaar is.
9Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, 'n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan.
10En julle moet die vyftigste jaar heilig en 'n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle 'n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.
11'n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie.
12Want dit is 'n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet.
13In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan.
14Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie;
15volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar 'n oes is, moet hy dit aan jou verkoop;
16volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder, en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste.
17Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou God; want Ek is die Here julle God.
18En doen my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land.
19En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon.
20En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie? —
21dan gebied Ek my seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.
22En in die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrings hiervan inkom, moet julle die oue eet.
Oor die lossingsreg van verkoopte erfgoed en oor die slawe.
23DIE grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.
24Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat.
25As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.
26En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing,
27moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan.
28Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan.
29En as iemand 'n woonhuis in 'n ommuurde stad verkoop, moet daar reg van lossing wees tot die end van die jaar dat dit verkoop is; 'n jaar lank moet daar reg van lossing wees.
30Maar as dit nie gelos word voordat 'n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly vir sy geslagte; in die jubeljaar sal dit nie vry word nie.
31Maar die huise van die dorpe wat rondom geen muur het nie, moet by die veld van die land gereken word; daar moet reg van lossing voor wees en in die jubeljaar moet dit vry word.
32Wat die stede van die Leviete aangaan, die huise in die stede wat in hulle besit is — vir die Leviete moet daar 'n ewige reg van lossing wees.
33En as iemand van die Leviete dit sal los, moet die huis wat verkoop is, naamlik in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word; want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel.
34En die weiveld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is 'n ewige besitting vir hulle.
35En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos 'n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe.
36Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe.
37Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie.
38Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om julle die land Kanaän te gee, om julle God te wees.
39En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie.
40Soos 'n dagloner, soos 'n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien;
41dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan.
42Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos 'n mens 'n slaaf verkoop nie.
43Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees.
44Wat jou slaaf of jou slavin aangaan wat aan jou sal behoort — van die nasies wat rondom julle is, van hulle mag julle 'n slaaf of slavin koop.
45En ook van die kinders van die bywoners wat by julle vertoef — van hulle mag julle koop en van hulle geslag wat by julle is, wat hulle in julle land verwek het; en dié sal vir julle 'n besitting wees.
46En julle mag dié aan julle kinders ná julle nalaat as 'n erflike besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien. Maar oor julle broers, die kinders van Israel, die een oor die ander — oor hom mag jy nie met hardheid heers nie.
47En as 'n vreemdeling of bywoner by jou vermoënd word, en jou broer by hom verarm en hy homself aan 'n vreemdeling of bywoner by jou verkoop, of aan 'n familielid uit die geslag van 'n vreemdeling,
48dan moet daar vir hom, nadat hy hom verkoop het, reg van lossing wees; een van sy broers kan hom los,
49of sy oom of sy oom se seun kan hom los, of een van sy naaste bloedverwante uit sy geslag kan hom los, of as hy dit kan bekostig, kan hy homself los.
50En hy moet met sy koper reken van die jaar af dat hy hom aan hom verkoop het, tot die jubeljaar toe. En die prys waarvoor hy hom verkoop het, moet wees volgens die aantal jare; soos 'n dagloner sal hy dan dié tyd by hom gewees het.
51As daar nog baie jare is, moet hy volgens hulle sy losprys uit die geld waarvoor hy gekoop is, teruggee;
52en as daar maar min jare tot die jubeljaar toe oor is, moet hy daarmee rekening hou; volgens dié jare moet hy sy losprys teruggee.
53Soos een wat van jaar tot jaar loonarbeider is, moet hy by hom wees; hy mag nie met hardheid oor hom voor jou oë heers nie.
54En as hy nie op dié wyse gelos word nie, moet hy in die jubeljaar vrygelaat word, hy en sy kinders saam met hom.
55Want die kinders van Israel is my knegte; my knegte is hulle wat Ek uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God.