Bible Society of South Africa

Almal eet saam - 14 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

HANDELINGE 2:42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die heel laaste ding wat Jesus saam met sy intieme kring volgelinge gedoen het voordat hulle na Getsmane en daarvandaan na Golgota vertrek het, was om saam met hulle te eet. In die Evangelies lees ons op verskeie plekke dat Jesus saam met mense geëet het. Dink aan Saggéüs die tollenaar, en die Fariseër by wie Jesus geëet het toe die vrou sy voete met reukolie gesalf het. Gereeld ook by Marta en Maria en na die opstanding aan tafel met die Emmausgangers en later ook sy volgelinge.

By elkeen van hierdie maaltye het iets besonders gebeur, maar die laaste maaltyd saam met die twaalf was iets heel besonders. Dit was die Pasga, die groot fees om die uittog uit die slawerny van Egipte te herdenk. Jesus en sy dissipels was nie al wat daardie aand saam geëet het nie. Oral in Jerusalem, en in stede en dorpies dwarsoor die land het gesinne en families aangesit by wat waarskynlik die belangrikste maaltyd van die jaar was. Geeneen van hierdie etes was egter so belangrik soos hierdie een daar in die bovertrek in Jerusalem nie. Nie net vir die handvol mense wat daar was nie, maar ook vir die kerk wat daarna sou ontstaan.

Ek was vanweë my werk by die Bybelgenootskap baie bevoorreg om by talle verskillende kerkgenootskappe saam met medegelowiges die nagmaal te vier. By elkeen van hierdie geleenthede het ek diep onder die indruk gekom van wat Jesus met daardie laaste Pasga vir ons geskenk het. Nadat hy die brood gebreek het sê hy vir hulle: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word” en “’Hierdie beker, wat terwille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed.’” (Lees Lukas 22:14-23)

Die heel eerste groep gelowiges het besef dat om gereeld saam “brood te breek”, uiters belangrik was. Die ete was nie net nagmaal nie, maar ‘n geleentheid om hulle innige verbondenheid ook te geniet deur gewone kos saam te geniet. So ‘n ete is dan met nagmaal afgesluit, want dit het hulle herinner om nooit te vergeet wat Jesus vir hulle gedoen het nie. Dit bly vandag nog net so belangrik om saam met medegelowiges hierdie versekering van ons verlossing in die smaak van die brood en wyn te proe.

Gebed: Ons dank U Here Jesus dat U vir ons iets tasbaars soos brood en wyn gegee het om ons te herinner aan wat U vir ons gedoen het. Amen

 

Bible Society of South Africav.4.21.9
VOLG ONS