Bible Society of South Africa

Almal bid saam - 15 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

42Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

HANDELINGE 2:42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om te bid is ‘n baie privaat saak. So glo die meeste mense. In Matteus 6:5 en verder leer Jesus self sy volgelinge dat ‘n mens nie op die straathoeke moet staan en bid om gesien te word nie, maar: “… wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou vader wat in die verborgenheid is …” Is dit dan verkeerd om in die openbaar te bid? Hoegenaamd nie. Inteendeel, Jesus beoefen dikwels self ook openbare gebed. Alhoewel ons lees dat Hy hom meesal afgesonder het om te bid, bid hy ook in die openbaar vir byvoorbeeld siekes en kinders en by die vermeerdering van die brood.

Volgens ons teksvers van die afgelope paar dae was gesamentlike gebed een van die belangrike hoekstene waarop die eerste gemeente gebou is. Openbare gebed was ‘n algemene gebruik onder die Jode in Jesus se tyd. Jesus vertel byvoorbeeld ‘n gelykenis van twee mense wat opgegaan het na die tempel om te bid. Ook Petrus en Johannes gaan volgens Handelinge 3:1 op die negende uur, dit is drie-uur in die middag, na die tempel toe. Die gebruik was om drie keer per dag te bid en baie mense het spesiaal na die tempel toe gegaan vir die gebedstyd. Hierdie gebede was meesal hardop. Die eerste gelowiges het waarskynlik nog vir ‘n geruime tyd hierdie gebruik gevolg en ook wanneer hulle bymekaar gekom het om te aanbid. Dit is tot vandag toe nog die gebruik in die kerk om by byeenkomste te bid.

Binnekamergebed is ‘n mens se persoonlike omgang met God, daar waar jy jou diepste geheime, jou vrese en bekommernisse, maar ook jou grootste vreugde met die Vader kan deel. Dit is die plek waar jy voorbidding doen vir jou familie en vriende. Dis is die plek waar jy Hom privaat loof en prys, maar ook waar jy maar mag vra vir dit wat jy nodig het.

Die openbare gebed is net so belangrik, want hier vind iets anders plaas. Dit is nie net die voorganger se gebed nie, maar die hele gemeente wat daar vergader is wat saam die Here loof en prys, wat saam voor Hom staan en pleit vir die wêreld waarin ons woon. Sonder gesamentlike gebed is die kerk kragteloos, want dit is hier waar ons in die krag van die Gees vorentoe gaan om die koninkryk te laat kom. So het die eerste gemeente geglo, en so glo ons.

Gebed: Here, U het vir ons in die “Onse Vader” ‘n pragtige gebed geleer, maar leer ons asseblief hoe om ook as gemeentes en lidmate van gemeentes in die openbaar te bid. Amen

Bible Society of South Africav.4.21.9
VOLG ONS