Bible Society of South Africa

Fondament van die gemeenskap - 16 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

EFESIËRS 4:15-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Alles wat ons die vorige dae gesê het, sal nie kan plaasvind as daar nie ‘n saambindende faktor is nie. Hierdie faktor is ons gemeenskaplike geloof in die Vader, Seun en Heilige Gees. Alleen die wat glo in God kan ware gemeenskap met mekaar beoefen. Juis omdat ons glo, voel ons tot mekaar aangetrokke. Die liefde wat ons aan God bind, bind ons ook aan mekaar.

Ek stel my graag ‘n magneet en ‘n klomp ystervylsels voor. Die vylsels lê verstrooid rond. Die oomblik as jy ‘n magneet naby hulle bring, word hulle aangetrek en klou aan die magneet vas, maar in die proses klou hulle ook aan mekaar vas. God se liefde vir ons en ons liefde vir God bepaal die aantrekkingskrag wat ons vir mekaar het.

Ons moet voortdurend daarvan bewus wees dat dit in die kerk en die gemeenskap van die heiliges gaan dit om Jesus as Hoof. Dit vervul ons met dieselfde ontsag as vir die eerste gelowiges. Dit gaan in die eerste plek in ons verbondenheid met mekaar nie oor hoe goed ons is nie, maar oor God vir wie ons deur ons band met mekaar, aanbid en dien.

In ons teks uit Efesiërs teken Paulus vir ons hoe die liggaam, wat ons kerk noem, behoort te lyk. Die liggaam is perfek, harmonieus, elke gewrig het ‘n plek, elke deel werk saam in die groot geheel en so groei die kerk en word opgebou in liefde.

Ons weet uit bitter ondervinding dat hierdie liggaam wat perfek deur Christus geskep is ongelukkig nie altyd en oral so perfek gebly het nie. Skeuring het deur die eeue plaasgevind, mense is doodgemaak omdat hulle idee van hoe die kerk van Christus moet lyk verskil het van diegene wat in beheer van die kerk was. In ons eie land is mense vanweë politieke redes die gemeenskap van gelowiges ontsê. So kan ‘n mens aanhou foute uitwys, maar dit behoort my nie van die kerk te laat wegdraai nie, inteendeel, ons moet juis daarna bly soek om God se mooi plan met sy kerk tot uitvoer te bring.

Gebed: Ons dank U vir ons eie gemeente waar ons saam met medegelowiges kan werk om God se plan met sy kerk in die wêreld tot uitvoer te bring. Amen

Bible Society of South Africav.4.21.9
VOLG ONS