1Ek was in drie opsigte pragtig,
en ek het lieflik voor die Here
en die mense opgestaan:
eensgesindheid tussen broers
en vriendskap tussen bure,
en 'n vrou en 'n man wat
gelukkig met mekaar saamleef.
2Maar daar is drie soorte
mense wat ek haat,
en ek word hewig ontstel
deur hulle lewenswyse:
'n arm man wat verwaand is,
'n ryk man wat 'n leuenaar is,
en 'n dwase ou man
wat 'n egbreker is.
3As jy in jou jeug
nie bymekaargemaak het nie,
hoe sal jy dan op jou oudag iets vind?
4Hoe lieflik is goeie oordeel
by grysaards
en om wyse raad te herken
by ouer mans.
5Hoe lieflik is die wysheid
van ouer persone,
en denke en raad
by geëerde persone.
6Ryke ervaring is die kroon
van ouer persone
en hulle roem is ontsag vir die Here.
7Nege dinge ag ek gelukkig
in my hart om te bedink,
en 'n tiende sal ek
met my tong uitspreek:
'n mens wat hom verheug
oor kinders,
'n mens wat leef en die val
van sy vyande aanskou.
8Gelukkig is hy wat woon
saam met 'n verstandige vrou,
wat nie met sy tong struikel nie,
en wat nie 'n slaaf
geword het van iemand
wat hom onwaardig is nie.
9Gelukkig is hy wat insig gevind het,
en wat dit meedeel aan diegene
wat luister.
10Hoe groot is iemand
wat wysheid vind,
maar daar is niemand bo die een
wat ontsag het vir die Here nie.
11Ontsag vir die Here oortref alles;
hy wat dit besit, met wie
sal hy vergelyk word?
13Alle verwonding, maar net nie
'n verwonding van die hart nie!
Alle boosheid, maar net nie
die boosheid van 'n vrou nie!
14Alle ellende, maar net nie
die ellende van diegene wat haat nie!
Alle wraak, maar net nie
die wraak van vyande nie!
15Daar is geen kop erger
as die kop van 'n slang nie,
ook is daar geen woede erger
as die woede van 'n vyand nie.
16Ek sal tevrede wees
om met 'n leeu en 'n draak
saam te woon,
eerder as om met 'n bose
vrou saam te woon.
17Die boosheid van 'n vrou
verander haar voorkoms
en dit verdonker haar gesig
soos dié van 'n beer.
18Tussen sy bure sal haar man
gaan aanleun vir ete,
en onwillekeurig oor bitter sake sug.
19Alle boosheid is klein
teenoor die boosheid van 'n vrou;
mag die lot van 'n sondaar haar oorval.
20'n Sanderige helling vir die
voete van 'n ouer persoon,
so is 'n praatsieke vrou
vir 'n saggeaarde man.
21Moenie val vir die skoonheid
van 'n vrou nie,
en moenie 'n vrou begeer nie.
22Woede en skaamteloosheid
en 'n groot skande
veroorsaak 'n vrou
as sy haar man onderhou.
23'n Terneergedrukte hart,
'n somber voorkoms,
en 'n verwonding van die hart
is 'n bose vrou.
Slap hande en lam knieë
word veroorsaak deur
die vrou wat nie haar man
gelukkig maak nie.
24By 'n vrou lê die begin van sonde,
en vanweë haar sterf ons almal.
25Moenie aan water
'n uitloop gee nie,
ook nie vryheid van spraak
aan 'n bose vrou nie.
26As sy nie optree volgens
jou voorskrifte nie,
sny haar af van jou vlees en bloed.